Kom nes jy is

come050310

come050310Jesus nooi ons nie om Hom te volg omdat ons in Hom glo nie, maar omdat Hy in ons glo! Hy sê: “Kom agter My aan en Ek sal julle vissers van mense maak” (Matteus 4:19 NLV). Hy weet wat ons kan wees wanneer Sy genade ons lewens aanraak. Matteus, ‘n Jood, het belasting ingevorder vir die Romeine wat sy mense in slawerny aangehou het. In hulle oë was hy slegter as sleg. Maar Jesus het hom geroep en hy het uiteindelik die eerste boek van die Nuwe Testament geskryf.

Toe Natanael genooi is om Jesus te ontmoet, was hy skepties. “Hoe kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” Kom kyk self, het Filippus hom uitgenooi (Johannes 1:46 NLV). Selfs nadat hulle vir drie jaar lank gesien het hoe Jesus wonderwerke verrig, het hulle steeds getwyfel. Kyk maar hoe gereeld Jesus vir hulle sê: “Julle glo nie. As julle net wou glo, sou julle sien.” Wetende dat hulle angstig was oor wat sou gebeur wanneer Hy hulle sou verlaat om terug te gaan hemel toe, het Jesus gesê: “En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Raadgewer (die Heilige Gees) stuur om vir altyd by julle te wees” (Johannes 14:16 NLV). Daar sal nooit ‘n dag aanbreek wat jy nie God se hulp nodig het nie!

So, kom nes jy is. Kom met jou donker verlede, jou hoogheilige houding of jou gebreke. Kom, selfs al wonder jy of Hy Sy beloftes gestand kan doen. Laat Sy krag en teenwoordigheid inwerk op jou. Wat het jy om te verloor? Jy het dinge reeds op jou manier probeer, en dit het nie gewerk nie. Probeer dit nou op Sy manier. Kom. Jy sal nie spyt wees nie!

Bron : Radiokansel

Scroll to Top