
Richard Mylander skryf: ‘Ek het eendag, op pad na ‘n konferensie in Colorado, met die snelweg gery. Die pad was baie steil. Die treinspore het parallel met die snelweg geloop. Teen ‘n baie steil bult het ek by ‘n lang trein, wat baie stadiger as ek in dieselfde rigting gery het, verbygery. Ek was verstom om te sien dat die trein, klaarblyklik met groot moeite, deur twee lokomotiewe gestoot en deur vyf getrek word. Dus altesaam sewe lokomotiewe! In die Middeweste, waar ek vandaan kom, het ek nooit meer as twee, of op die uiterste, drie lokomotiewe gesien nie. Daardie trein was vir my ‘n groot les. Ek was die afgelope tyd onder kwaai druk. Ek was moeg en het gevoel dat ek sou ingee onder die druk. Dis net soos God is, het ek gedink. Wanneer ek met al my krag teen die heuwel opbeur en voel dat my kragte gaan ingee, wil God hê dat ek moet besef Hy is voor – besig om te trek met veel groter krag as myne.’
Bron : Radiokansel



