Hou aan om te leer (1)

RKAs jy talentvol is, is dit dalk moeilik om iemand toe te
laat om iets vir jou te leer. Talentvolle mense maak partykeer asof hulle alwys
is. Dit maak dit nogal moeilik vir hulle om aan te hou ontwikkel. Leersaamheid
het veel minder met bevoegdheid en verstandelike vermoë te doen as met jou
gesindheid. Jy moet lus wees om te leer en te groei. Jy moet bereid wees om te
leer, te verleer en weer te leer. John Wooden het gesê: “Wat werklik saak
maak, is dit wat jy leer nadat jy alreeds alles weet.” Wanneer jy ophou
leer, gaan jy ophou lei. Slegs as jy leerbaar bly, kan jy aanhou groei en steeds ‘n impak hê.

Behalwe dat Leonardo da Vinci ‘n ongelooflike skilder en
beeldhouer was, was hy ‘n genie op meer velde as enige ander wetenskaplike uit
enige tydperk. Sy aantekeninge in sy notaboeke is honderde jare voor hul tyd en
daarin kan
gesien word dat hy duikbote, helikopters en ander “moderne”
uitvindsels vooruitgeloop het. In een notaboek het hy geskryf: “Yster roes
as dit in onbruik raak; stilstaande water verloor suiwerheid en vries in koue
weersomstandighede – netso verloor ‘n brein wat nie gebruik word nie sy
flinkheid.” Hy is gedryf deur sy begeerte om meer te weet. Hy het aanhou
leer en tot aan die einde van sy lewe alles wat hy uitgevind het, neergeskryf
in sy notaboeke. Die goeie nuus is dat jy nie die verstand of talent van
Leonardo da Vinci hoef te hê om leerbaar te wees nie. Jy moet net die regte
gesindheid hê.

Die belangrikste vaardighede wat jy moet
aanleer, is dat jy moet leer hoe om te leer. Probeer vir die volgende week die
volgende: vra ander vir hulle raad en moenie enige raad van jou kant af gee
nie. Skryf aan die einde van die dag alles neer wat jy geleer het deur op te
let wat ander sê. Jy sal verstom wees!

© 2007 Radiokansel.  /
www.radiokansel.co.za

Scroll to Top