Onthou jy die vrou wat op owerspel ‘betrap’ is? Die Fariseërs het gebuk om klippe op te tel. Jesus het gebuk om haar op te help. Ons moet nie kieskeurig wees oor wie ons help nie en jy kan nie net mense wat soos jy glo help nie. Nee, ‘… ondersteun die swakkes, wees geduldig met almal.’ (1 Tessalonisense 5:14 NLV).
‘n Man het in ‘n put geval en kon nie uitkom nie. ‘n Subjektiewe persoon het verby geloop en gesê, ‘Ek is jammer vir jou daar onder.’ ‘n Objektiewe persoon het verby geloop en gesê, ‘Wel, dis net logies dat iemand daar sou inval.’ ‘n Fariseër het gesê, ‘Net slegte mense val in putte.’ ‘n Kritiese Christen het gesê, ‘Jy verdien jou put.’ ‘n Realis het gesê, ‘Daar is nou ‘n put.’ ‘n Self-bejammerende persoon het gesê, ‘Jy het nog niks gesien totdat jy mý put gesien het nie.’ ‘n Optimis het gesê, ‘Dinge kon erger wees.’ ‘n Pessimis het gesê, ‘Dinge sal erger word.’ Jesus, wat gesien het dat die man in die put is, het uitgereik, hom aan die hand geneem en hom uit die put getrek.
Het jy opgemerk hoe Jesus sy bekende gelykenis oor die Barmhartige Samaritaan afsluit? ‘”… gaan nou, en doen dieselfde”‘ (Lukas 10:37 NLV). Jy het die mag om die lewens van diegene naby jou aan te raak. Jou aanmoediging kan die verskil in iemand se lewe maak, dit heeltemal in ‘n nuwe rigting stuur. Dis egter moeilik om mense aan te moedig as jy nie weet wat hulle behoeftes is nie. Jy moet mense bestudeer en leer wat hulle behoeftes is, wat hulle ‘uit die put’ kan trek.
Bron : Radiokansel (Inhoud aangepas)




