‘Ek sal weer stop om ’n skilpad te red’

Volksblad“DIE Here het ’n plan met my lewe, anders sou ek nou dood gewees het,” sê die Bloemfonteinse man wat deur die dood in die oë gestaar is toe hy ’n skilpad wou red.

Mnr. Dawie Beukes (33) van Waverley het die gebruik van sy linkerarm verloor in ’n ongeluk in die Noord-Kaap, maar sê hy gaan nie dat sy noue ontkoming hom onderkry nie en wil die lewe van ander mense positief verander.

“Daar is baie mense wat beseer is in ongelukke. Ek was amper dood, maar ek gaan nie op ’n hopie sit nie. Ek gaan my slegte ervaring in ’n positiewe een omskep en die mense daar buite wat ook in ongelukke was, motiveer.”

Beukes is twee weke gelede ongeveer 15 km voor Richmond in die Noord-Kaap deur ’n vragmotor getref toe hy ’n skilpad oor die pad wou help.

“Ek en my gesin, my vrou, Hilda (35), en seuntjie, Hein (5), was op pad terug van vakansie op Knysna toe ons die skilpad op die teerpad teëkom. Ek het gedink ek moet hom red want hy loop so stadig en kan enige oomblik raakgery word.”

Beukes het gestop en die skilpad in die middel van die pad opgetel.

“Ewe skielik het daar ’n groot vragmotor te voorskyn gekom en my gestamp.”

’n Erg beseerde Beukes het in die pad gelê en die skilpad het nie die ongeluk oorleef nie.

Motoriste het op die toneel gestop en hulle oor Beukes en sy gesin ontferm.

“Ek kan nie glo die mense was so hulpvaardig nie. Dit is onbeskryflik.”

Beukes is na De Aar gebring, maar daar was nie voldoende mediese hulp nie.

“Twee mediese personeellede van De Aar het op hul eie my na Bloemfontein gebring.”

Hy is in die Bloemfontein-Medi-Clinic opgeneem en was ’n week lank in die intensiewesorgeenheid.

Beukes het vroeër vandeesweek ’n kliniek in Johannesburg besoek waar daar ’n skandering van sy linkerarm gedoen is.

Hy is meegedeel dat die skade aan sy linkerarm van so ’n aard is dat hy die gebruik daarvan permanent verloor het.

“Behalwe vir my arm het ek ook my been gebreek en reeds operasies ondergaan. In Januarie sal ek weer my been kan gebruik.”

Hy kan nie ophou praat oor die ondersteuning wat hy van mense van heinde en ver ontvang nie.

“My telefoon lui onophoudelik – almal bied hulp aan, sommiges dra mooi wense oor en ander bel net vir blote ondersteuning.

“Die positiewe uitkoms van my ongeluk is dat ek besef het hoe belangrik dit is om die kleiner dinge in die lewe te geniet. As die dood jou in die oë staar, besef jy al wat belangrik is, is jou gesin en jou verhouding met God. Ek het ook my geloof in die mensdom teruggekry.”

Mev. Beukes sê as daar iemand is wat die situasie kan oorleef en positief aan die anderkant uitstap, is dit háár man.

“Hy is baie lief vir diere. Hy sal enige diertjie red.”

Beukes beaam dit en sê hy sal weer stop om ’n skilpad of ander diertjie te red.

Volksblad

Scroll to Top