
Min het ek geweet dat ek en Bianca boesemvriende sou word. Min het ek met ons eerste ontmoeting geweet dat Bianca eintlik Jaco was en dat hy ‘n geslagsveranderingoperasie sou ondergaan en eendag vir my sou skree:”Jy sê jy is my vriendin! Jy sê jy is lief vir my? Hoe kan enige mens lief wees vir ‘n DIT? Ek is nie ‘n man nie; ek is ook nie ‘n vrou nie; ek is ‘n DIT!” Min het ek geweet hoe ingewikkeld en seer een mens se lewe kan wees.
Oor Bianca is daar baie stories te vertel, maar een van my gunstelinge is haar tydperk van verblyf in die Tuine van Kaapstad (onwettig, natuurlik), so om en by die tien jaar gelede. Hier volg dan nou die verkorte weergawe van ‘n wydvertelde storie…
Opgedra aan elkeen wat moedig die lewe in die oë kyk ten spyte van moeilike omstandighede en planne maak om te oorleef, en aan elke sekuriteitswag wat soms anderpad kyk.
My Engelse onderwyseres het altyd vir ons probeer verduidelik wat ironie is: “Lag met ‘n traan”, het sy altyd gesê. Bianca se lewe in die Gardens was juis dit – lag met ‘n traan.
Daar was destyds geen OPHELP Projekte om kontant in die hand te verdien nie, so elkeen moes maar self kreatiwiteit aan die dag lê om in die daaglikse behoeftes te voorsien. Bianca het vir ‘n tydperk met ‘n verslete bordjie om haar nek rondgeloop en gebedel waar sy kon, maar dit was nie haar gawe nie. Bianca en ‘n telefoon is groot vriende so sy het ‘n werk losgeslaan by een of ander call centre in die Waterfront. Sy het my gereeld gebel en ons gesprekke oor die telefoon het min of meer so verloop: “Goeie middag mevrou, vandag moet ek u vertel van ‘n merkwaardige nuwe produk… Hoe gaan dit? Gaan jy vanaand ‘n draai by my kom maak in die Gardens? Bring vir my seep en skeermesse as jy kan… Mevrou, u het ‘n wonderlike kans om ‘n vakansie vir twee te wen na…En as jy kan, my skoen het gebreek, die hak is morsaf ek kan nie more so kom werk nie…Baie dankie mevrou. Tot siens mevrou.”
Dat Bianca by ‘n call centre gewerk het was alreeds merkwaardig en dat sy elke oggend haarself by ‘n koue kraan in die Tuine gewas het was prysenswaardig, maar om te grimeer, sykouse en high polvies aan te trek en ‘n bypassende handsak oor die skouer te gooi is regtig iets vanuit ‘n ander wêreld. Niemand het in die twee maande wat sy by die call centre gewerk het agtergekom dat sy op straat bly nie. Innemende mens wat sy is, wou haar werkskollegas na werk by haar kom kuier, maar sy was altyd gereed met ‘n verskoning. As jy dalk wonder hoekom sy nie ‘n plan gemaak het om ander verblyf te kry nie – dis ‘n heel ander storie. Sy was bekend en berug by al wat ‘n goedkoop losieshuis en nagskuiling is, so die stoep van die museum in die Tuine was die enigste uitweg (en die gawe sekuriteitsman wat anderpad gekyk het). En ja, sê sy: “Ek het elke oggend en aand geld gehad vir koffie en sigarette.”
Natuurlik as sy laatmiddag by die ‘huis’ gekom het, het sy haar werksklere uitgetrek en ander werksklere aangetrek – vuil, gehawende klere en kaalvoet het sy aan die woonsteldeure van Tamboerskloof en die Tuine gaan aanklop en kos bymekaargemaak vir die aand vir hulle viermanskap. “Ek het twee jobs, ‘n day job en ‘n vroegaand job – dit wil gedoen wees, né?”
“Dat ek nie gedrink het nie, was my behoud. Vandag kan ons lag en grappies maak oor my sykouse en innoverende planne, maar daardie tye was moeilik, baie moeilik. Ek mis nogal my helderrooi pakkie wat ek elke tweede dag aangetrek het werk toe.”
Ongelukkig was die grootste deel van Bianca se lewe nie die Gardens nie. Twintig jaar van haar lewe was sy vasgevang in prostitusie. Die tyd in die Gardens was ‘n fase waar sy net nie meer kans gesien het vir prostitusie nie. Dit was egter van korte duur. Ek onthou my besoeke aan goedkoop losieshuise en hotelle en agterkamertjies en woonstelletjies en kamers in huise en die groot rondskarrel vir blyplek wanneer Bianca dit weer, vir die soveelste keer reggekry het om haarself uit ‘n blyplek te sit.
Ek onthou hoe my paaie met baie van haar kliënte gekruis het, so by haar voordeur of agterdeur of op die sypaadjie. Menige kere moes sy vir haar kliënte op straat skree:”Sy werk nie op die pad nie, sy is ‘n kerkvrou.” Daar was die tye wat ek vir haar in psigiatriese hospitale moes gaan kuier het, tye waar sy erg aangerand in gewone hospitale beland het, tye wat sy wou selfmoord pleeg en God en die mensdom met ‘n passie gehaat het. Daar was moeilike tye in ons vriendskap, maar ook wonderlike tye van country musiek luister, rugby kyk en groot bekers tee drink.
Op 23 Januarie 2009 is Bianca skielik op die ouderdom van 38 oorlede. Haar liggaam was opgebruik. Ons het deur die jare baie gesprekke oor Jesus en vergifnis en genade gehad, maar die gesprekke het aan die einde van 2008 verdiep en Bianca het iets van Goddelike liefde begin verstaan. Sy het ook die lewe van prostitusie agtergelaat en ordentlike werk en verblyf gekry. Ons het gesien hoe die vrede van die Here haar deel word.
Bianca se lewe het my baie laat dink oor die lewe. Ek het haar kamer gaan opruim en ek was verstom dat alles wat sy besit het, alles wat sy kon wys van 20 jaar van prostitusie, agter in ‘n Corsa bakkie kon pas. Later het ek vir haar ma ‘n pakkie gemaak met fotos en cd’s en ‘n paar ander sentimentele dinge. Dit alles kon in ‘n TYPEK boks pas. Snaaks om te dink dat ek vir Bianca in ‘n Typek Doos kon verpak en vir haar ma kon stuur.
Ekself het besluit om net die goeie herinneringe met my saam te dra. En ‘n boek. ‘n Boek waarin Bianca kliënte se telefoonnommers en adresse neergeskryf het, ‘n boek waarin sy probeer het om haar begrotings uit te werk, ‘n boek waarin sy gebede neergeskryf het vir meer kliënte en ‘n boek waar sy party kliënte se name en adresse doodgekrap het met die woorde: NEVER AGAIN. (Ek neem aan die never again episodes het haar in die psigiatriese en ander hospitale laat beland. Sy het nooit daaroor gepraat nie).
Die boek herinner my aan die feit dat prostitusie werklik bestaan en dat dit geen glansryke ‘Pretty Women’ wêreld is nie. Die boek herinner my daaraan dat die Waardevol vir Jesus Veldtog uiters belangrik is en dat almal gewaarsku moet word teen die vernietigende lewe van prostitusie.
Bianca, die Gardens is defnitief nie jou woning nie, maar die Paradys wel.




