Image

ImageJy kan deesdae omtrent nie op ‘n snelweg ry nie, of jy beland in ‘n verkeersknoop. Om nie eens te praat van spitstyd wanneer jy leweloos vasgevang sit tussen hordes ander motors nie.

Helaas is party kerkmense ook verstrengel in geestelike verkeersknope. Hulle sit hulle lewe lank by ‘n denkbeeldige rooi verkeerslig en wag dat die geestelike lig groen moet slaan sodat hulle in beweging kan kom vir God. Sommige mense meen jy moet maande en jare omwag op God om sy planne bekend te maak. Tot dan sit hulle passief rond in geestelike verkeer wat nie juis vorder in die regte rigting nie. Hulle dreig jou maar net elke week dat hulle nog eendag iets groot vir God gaan doen. Maar hulle doen dit nooit!

Hoor hier, God se wil is ‘n pad met ‘n groen verkeerslig. Jy ontdek sy planne so in die ry. Jy vind God se wil terwyl jy besig is om in die regte lewe vir Hom te leef. Dit help veel jy weet waar’s die regte pad, maar jy ry nooit daarop nie. Dit help veel jy staan gedurig stil op die regte pad. Nee, kom in beweging. Be-leef en doen God se wil vandag.

Stephan Joubert (www.ekerk.co.za)

Scroll to Top