Wil jy verander?

ImageVerander slegs op die gebiede waar jy:
(1) Besluit om te verander. Die London Times koerant het eenmaal lesers uitgenooi om die volgende vraag te beantwoord: “Wat is verkeerd met die wêreld?” G.K. Chesterton het na bewering die volgende antwoord ingestuur: “Beste Meneer. Ek is.” Dink bietjie, as jy die persoon wat verantwoordelik is vir die meeste van jou probleme kon skop, sou hy vir ‘n week lank nie kon sit nie! Dissipelskap – die proses waardeur ons soos Christus word – begin met ‘n besluit. Jesus roep ons, en ons reageer. “‘Volg My!’ Hy het toe opgestaan en Hom gevolg,” (Matt. 9:9, NAV). Dit is al wat jy nodig het om te begin: ‘n besluit!
(2) Verander jou denkwyse. “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe,” (Rom. 12:2, NAV). Verandering begin in jou kop. Jou denkwyse bepaal hoe jy voel; hoe jy voel, bepaal jou optrede. Dus: reinig, voed en programmeer jou denke volgens God se Woord.
(3) Neem elke dag ‘n klein treetjie. Die meeste van ons verwag om oornag te verander. Nee, verandering gebeur stadig. Om suksesvol te wees, moet ons begin met die klein goedjies en dit elke dag doen. Die Heilige Francis de Sales het gesê: “Wees geduldig met alles, maar veral met jouself. Moenie moed verloor wanneer jy besef wat jou tekortkominge is nie, maar begin eerder dadelik om aan hulle werk. Begin elke dag van voor af met die taak.” Jy sê: “Maar ek is nie goed genoeg nie.” Niemand is nie. Moenie moedeloos word nie: “God, wat die goeie werk in julle begin het, (sal) dit end-uit voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom,” (Filip. 1:6, NAV).
© Radio Kansel 2008 (www.radiokansel.co.za)
Scroll to Top