Werk jy jouself dood om ’n beter toekoms vir jou familie te skep? Ligloop, dalk bluf jy jouself.
Werkslawe is vreemdelinge vir ander mense.
Daar’s geen waarborg op daardie geld in jou beursie wat sê: “Geluk word deur hierdie geld gewaarborg” nie. As jy mooi lees, staan daar agterop elke geldnoot: “As jy lief is vir geld, sal jy altyd nog meer wil hê. As jy baie besittings wil hê, sal jy nooit genoeg kry nie” (Prediker 5:9).
Daar’s fout as jou ingesteldheid jeens geld verander het vanaf rentmeester na dié van slaaf. Geldverslaafdheid eis jou lojaliteit 24 uur per dag op. Die beloning? Dit steel jou lewensvreugde, jou gesin, vriende, jou menswees, jou siel! Hou op om jouself vir dinge af te sloof. Jy gaan jou mense in dié proses verloor. En Christus ook. Wat dan?
Stephan Joubert (www.ekerk.co.za)