
1) Moenie wag nie, neem die inisiatief. Abram het nie gesê: “Ek gaan nie hierby betrokke raak nie.” Nee, hy het besef dat hy die saak sou moes aanroer voordat dit ‘n wig tussen hulle sou indryf. Insig (om vooruit te sien) is wat nodig is om langtermynverhoudings te bou. God het kort gelede vir Abram belowe: “…Ek sal jou seën sodat jy geëerd sal wees…” (Genesis 12:2 NLV). Sodanige seën vra om wysheid. Vir God se belofte aan Abram om vervul te word, moes hy hierdie situasie reg hanteer. Niemand hou van konfrontasie nie, maar ter wille van jou toekomstige vrede en voorspoed, is dit belangrik dat jy dinge reg hanteer voordat dit hand uit ruk.
2) Moenie bekommerd wees dat jy ingedoen mag word nie, God sal jou vergoed. Lot, die jonger man, kies toe die vrugbare, waterryke Jordaanvlakte, en los Abram met die kortste end. Omdat hy ouer was, kon Abram seker rang getrek het en aangedring het op die beter grond, maar hy het nie. Hy het twee dinge besef: a) Hy het sy verhouding met Lot ontgroei en dit was tyd om met grasie uit te tree, en b) Sy waardes en doelwitte was onversoenbaar met Lot se idees. Lot se keuse het opgegaan in vlamme, maar dit wat Abram gekies het, is tot seën gemaak vir die hele mensdom. So, wees ‘n vredemaker en wandel in God se seën.
Bron : Radiokansel




