Verbonde aan Sy liefde

Cross

CrossMense het jou voorwaardelik lief, maar God is lief vir jou omdat Hy so besluit het. Sonder rede en spontaan. “Die Here het julle nie gekies of liefgehad omdat julle meer of groter was as die ander nasies nie. Trouens, julle was die kleinste van al die nasies! Dit was net omdat die Here julle liefgehad het.” (Deut 7:7-8 NLV) Jy kan nie God se liefde verdien of beïnvloed nie. Paulus skryf: “God laat blyk Sy liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was.” (Rom 5:8 NLV) Daar is niks in die heelal waarmee jy God se liefde kan vergelyk nie.

Jesus het gesê: “Sal julle aan my liefde verbonde bly.” (Joh 15:9 NLV) Om verbonde te bly aan Sy liefde beteken dat jy tuis voel daarin. Tuis: ‘n plek waar almal jou ken, liefhet, waar jy veilig en altyd welkom is.

Om verbonde te bly aan Sy liefde beteken om aan Christus te klou soos ‘n loot aan ‘n druiwestok. Kan die loot ooit van die druiwestok ontslae raak? Net wanneer dit dood is. Kan die loot ooit ophou om lewe uit die druiwestok te tap? Nee, dit ontvang 24 uur per dag sy voedingstowwe. Sou jy sê dat die loot afhanklik is van die druiwestok? Absoluut! “‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie voluit aan my verbonde bly nie.” (Joh 15:4 NLV)

Kopiereg 2009 Radiokansel

Scroll to Top