RKDit is onmoontlik
om suksesvol te wees in die lewe, sonder om jou verlede te bowe te kom. Toe die
beroemde Ignacy Jan Paderewski op sy eerste dag klavierles begin neem het, het
sy klavieronderwyser vir hom gesê dat sy hande te klein is en dat hy nooit die
klavier sal kan
bemeester nie. Tog het sy passie hom gedryf om uiteindelik ‘n wêreldberoemde
pianis te word.

Toe Enrico Caruso
begin het met stemopleiding, het sy dosent vir hom vertel dat hy klink soos die
wind wat deur ‘n venster huil. Vandag word Caruso onthou as een van die wêreld
se beste tenore.

As jy ooit inspirasie
nodig het om struikelblokke te oorkom, moenie verder soek as Christus nie. Die
gemeenskap het Hom ‘n buite-egtelike kind genoem. Hy is gebore as ‘n lid van ‘n
gehate minderheid wat daagliks brutaal onderdruk is. Die erkende kerk het Hom
gebrandmerk as ‘n ketter. Die staat het gesê Hy is ‘n gevaarlike oproermaker
wat moes sterf. Een van sy naaste vriende het Hom verraai om homself te verryk.
Hy is gevonnis sonder ‘n regverdige verhoor en het gesterf soos ‘n blote
krimineel. En wat was sy antwoord op al sy swaarkry, en op ons s’n? “Hou
moed: Ek het die wêreld klaar oorwin,” (Joh. 16:33, NAV).

Ons spandeer
hopeloos te veel tyd daaraan om te huil oor gedane sake. Ons moet eerder aandag
skenk aan die belangrike taak wat ons elke oggend het – om te besluit wat ons
gesindheid gaan wees – ons mors ons tyd en energie op goed wat ons nie kan verander nie. Jy kan nie ‘n geliefde wat
gesterf het terugkry nie. Jy kan
niks verander aan die feit dat jou eggenoot ontrou was aan jou nie. Die verlede
is verby. Kyk vorentoe. Loop vorentoe! God sê: “Ek beplan voorspoed en nie
teenspoed nie.”

© 2007 Radiokansel. www.radiokansel.co.za

Scroll to Top