
Onthou, waardevolle ondervinding laat jou bo die groep uitstyg. Mense wat daarvan ‘n gewoonte maak om oor hulle belewenisse na te dink en daaruit te leer, is dun gesaai. Maar jy weet dadelik wanneer jy só iemand ontmoet. Daar is ‘n storie van ‘n jakkals, ‘n wolf en ‘n beer wat saam gaan jag het. Nadat elkeen ‘n bokkie gevang het, het die beer aan die wolf gevra hoe hulle die buit moes deel. Die wolf het geantwoord, ‘Elkeen kry een bokkie.’ Waarop die beer die wolf terstond verslind het. Daarna vra die beer aan die jakkals wat hý dink. Die jakkals het sy bokkie vir die beer aangebied en voorgestel dat die beer die wolf se bokkie ook moet kry. ‘Wie het jou wysheid geleer’, vra die beer. ‘Die wolf’, het die jakkals geantwoord. Die skool van die lewe bied aan ons beplande, asook onverwagse ‘kursusse’. Al hierdie kursusse kan waardevolle lesse inhou, maar slegs as ons wil leer en daaroor wil nadink.
Bron: Radiokansel




