JES. 42:7 “Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan.”


Ek het ’n tyd gelede die verhaal gehoor van ’n seuntjie wat blind gebore is. Sy ma wou hom beskerm en het besluit dat daar nooit voor hom oor dinge soos sig, kleur en lig gepraat sou word nie. Hy sou in ’n donker wêreld grootword, maar dit sou hom nie pla nie omdat dit sy enigste verwysingsraamwerk sou wees. Hy sou aanvaar dat dit is hoe die wêreld is. Vir ’n ruk het dit ook baie goed met hom gegaan. Op ’n dag het daar egter ’n maatjie by hom kom speel wat skielik met hom begin praat het oor dinge soos kleur en lig. Hy was natuurlik baie ontsteld en het dadelik hewig ontken dat dit hoegenaamd bestaan. Vir hom was daar net een wêreld en werklikheid: die donker wêreld waarvan hy deel was.


Ek dink baie van ons bevind ons in ’n soortgelyke situasie. Ons leef byvoorbeeld in ’n wêreld wat ’n fisieke en ’n geestelike dimensie het. Vir die meerderheid moderne mense het die geestelike dimensie “verdwyn”. Hulle leef asof dit nie bestaan nie. Hulle praat met niemand daaroor nie en niemand praat met hulle daaroor nie. Hulle leef, maar leef soos die blinde seuntjie in ’n plat, eendimensionele wêreld.


Die wonder van die evangelie is dat dit ons plat, donker wêreld weer kleur en lig wil gee. Dit wil meer dimensies daaraan gee. Dit wil ons laat leef, maar dan nie naïef en bekrompe nie. Dit wil ons help om ’n greep op die werklike werklikheid te kry. Dit is waaroor dié boek gaan. Mag ek en jy in dié jaar ’n nuwe bril opsit wat ons sal help om beter te sien wat ons as gelowiges moet sien.

Uit: Lewe met Perspektief – Braam Hanekom – uitgegee deur CUM

Scroll to Top