Wanneer dit vir jou belangriker is om jouself tevrede te stel eerder as jou maat, is jou huwelik in die moeilikheid. Meeste huwelike verbrokkel as gevolg van selfsug. “Gee my net nog ‘n paar maande om my projek by die werk af te handel; dan sal dinge na normaal terugkeer.” Hoeveel vroue het hierdie woorde nie al gehoor by hulle mans wanneer hulle vra vir meer tyd en aandag nie? En wat gebeur? Die projek eindig en hy raak bloot betrokke by iets anders wat net soveel tyd verg. Omdat haar behoeftes onbevredig bly, raak sy moedeloos en wrewelrig en bou ‘n beskermende skans om haarself. Die man, gewoonlik nog in die donker, mag redeneer: “Ek werk hard vir die huishouding. En ek loop nie rond nie.” En die ou grote: “Ek doen dit alles vir jou.” Maar sy vrou het nie met ‘n besigheid of ‘n beursie getrou nie, maar met hóm. Daar is absoluut niks wat hy kan doen om homself in haar lewe te vervang nie, ongeag wát hy vir haar gee. Baie paartjies wat minder het, vaar beter, want hulle het mekaar.
Wanneer daardie beskermende skans eers gevorm het, is dit moeilik om binne te dring. Erger nog: egskeiding-statistieke bewys dat min mans die geduld het om dit aan te durf. Dit is wanneer hulle aangetrokke raak tot ander vrouens. Maar, die vlam van liefde kan daardie ysige skans smelt. As jy jouself toewy om jou vrou (of man) van voor af weer lief te hê, sal God jou help om die vlammetjie weer aan te wakker.
Bron : Radiokansel