RKAs jy al ooit in ‘n pretpark was, sal jy weet dat
dit ontwerp is om jou weg te voer na ‘n ander wêreld. Die doel van die hele
ondervinding is om jou te help om jouself te verloor in al die vrolikheid en
opgewondenheid. Deur gebed word ons weggevoer na ‘n ander wêreld. ‘n Pretpark
is maar net tydelike “speel-speel” – jy moet op die ou end weer
terugkom na die werklikheid toe. Maar daar is geen “speel-speel” as
dit by gebed kom nie. Gebed neem ons na ‘n Hemelse wêreld waar Jesus aan die
regterhand van God sit. Die perfekte plek om van God te hoor.

Wat sal ons hoor? God se stem wat sy Woord toepas
op ons spesifieke behoeftes en omstandighede. Kom ons erken dit maar, gebed kan harde werk wees –
dit verg baie dissipline. Dis nie so maklik soos om rond te hardloop in ‘n
pretpark nie. Ons almal weet hoe dit voel om met die beste bedoelings op ons
knieë te gaan en om óf aan die slaap te raak, óf niks meer oor te hê om te sê
nie, óf om na ‘n paar minute agter te kom dat ons gedagtes afgedwaal het.

Die ou gesegde sê: “Gebed verander
dinge”, maar eers moet dit óns verander, ons wegdraai van ‘n selfsugtige
fokus na ‘n fokus op God, sodat ons sy wil kan verstaan en doen. Die Hebreër-skrywer
het dit so gestel: “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen
medelye met ons swakhede kan
hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar
Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon,
sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.”

© 2007 Radiokansel. www.radiokansel.co.za

Scroll to Top