Jesaja beskryf drie noemenswaardige maniere waarop God in ons lewens werk:
(1) “In die skaduwee van Sy hand het Hy my weggesteek.” Voordat Elia vuur uit die hemel geroep het op Karmelberg, het God hom aangesê om te gaan wegkruip by die Kritspruit waar hy bonatuurlik versorg sou word (1 Konings 17:3 NLV). Voor elke “onthulling” word daar “weggesteek”. God kry ons alleen, en werk dan met ons op ‘n unieke manier.
(2) “Hy het my ‘n skerp pyl gemaak en in Sy pylkoker weggesteek.” ‘n Boogskutter neem ‘n ruwe tak, en verwerk dit tot ‘n gepoleerde pyl wat die kol kan tref. Dan bêre hy dit in sy pylkoker. Wat ‘n wonderlike plek om te wees, verbind aan Hom en binne maklike bereik wanneer Hy jou nodig het. Dit laat jou anders daaroor dink om in die skaduwee te wees, nie waar nie?
(3) “Jy is my dienaar… Deur jou sal Ek verheerlik word.” Na ‘n besoek aan die Balkan, het ‘n Kanadese verslaggewer, James Creelman, die volgende geskryf: “Ek het geleer dat die hele wêreld se roosolie afkomstig is uit die Balkanse berge. Wat my opgeval het, was dat die rose tydens die donkerste ure gepluk moes word. Ek het aanvanklik geglo dit was ‘n bygeloof, maar soos my ondersoek gevorder het, het ek ontdek dat tot 40 persent van die geur verdwyn in die daglig.” Sonder om ‘n woord te sê, versprei jou lewe ook ‘n geur. Deur jou invloed word andere opgehef of afgerem.
Wil jy ‘n verskil maak? Ontdek God in die skaduwees, en groei daar totdat jy kan uitkom en iets kan sê wat die moeite werd is om na te luister!
Bron:Radiokansel