Moenie dat kommer jou lewe oorneem nie, stuit kommer in sy spore. ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.’ (1 Petrus 5:7 NLV). God is meer bekommerd oor jou bekommernisse as jy sélf. Nie eens een treiterende, pynigende, lastige, martelende gedagte gaan by Hom verby nie. Jy is Sy persoonlike verantwoordelikheid en Hy sal jou dag en nag bewaar.
Wat is ‘n kwelling? Dit is enigiets wat jou lewensvreugde steel, wat jy nié kan verander nie, waarvoor jy nie verantwoordelik is nie, wat jy nié kan beheer nie, wat jou folter, en wat jou wakker hou wanneer jy veronderstel is om te slaap. Al hierdie ‘dinge’ moet van jou kommerlysie na jou gebedslysie oorgeskuif word. Die Bybel sê, ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles.
Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef.’ (Filippense 4:6-7 NLV). Gee jou kwellinge een vir een aan God oor. Hoe meer jy dít doen, hoe opwindender sal jou wandel met God word. Jy sal verstom wees oor hoe maklik God dinge wat jóú oorweldig, hanteer.
Onthou dat God wil en kan, en net op jou wag om jou sorge aan Hom oor te laat. ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg.’ Diegene wat voortdurend hulle sorge aan die Here oorgee, totdat dit so natuurlik soos asemhaling word, is die mense wat ‘n kommervrye lewe geniet.
Bron : Radiokansel