
Die Henry John Heinz-maatskappy is in 1905 geïnkorporeer, en tans, meer as honderd jaar later, verkoop dit meer as eenduisend-driehonderd produkte wêreldwyd, van tamatiesous tot babakos. Maar daar is ander dinge wat jy moet weet: Henry John Heinz was lief vir Jesus en diep betrokke by die bevordering van Sondagskool in Pittsburg en oor die wêreld heen.
Sy maatskappy was bekend vir die baanbrekerswerk in veilige en higiëniese voorbereiding van kos en was sy tyd voor op die gebied van arbeidsverhoudinge. Hy het gratis mediese voordele, swem- en gimnasiumfasiliteite gegee, en vroue bevorder tot poste met groter verantwoordelikheid deur hulle toesighouers te maak. Hy het aansien verwerf vir die verbetering van werk- en verblyftoestande van sy werkers.
In sy testament het Henry John Heinz gesê: ‘Ek het die wens om ter aanvang van hierdie testament, as die belangrikste punt daarin, die belydenis van my geloof in Jesus Christus as my Verlosser te stel. Ek het ook die wens om te getuig van die feit, dat regdeur my lewe, waarin daar ongewone vreugde en verdriet was, ek op wonderlike wyse ondersteun is deur my geloof in God deur Jesus Christus. Hierdie nalatenskap kom van my toegewyde moeder, ‘n vrou met sterk geloof en aan wie ek die sukses wat ek behaal het, toeskryf.
Bron : Radiokansel




