God wil met ons praat

ware ekklesias

ware ekklesiasAs daar een ding moet gebeur in die ware Ekklesia of kerk van Jesus Christus, is dit dat God self met mense praat! Mense gaan ervaar dat God self daar aan die woord kom.

Dit gaan wees soos daardie dag waarvan Lukas ons in Luk. 4:16 tot 22 skryf: “Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan:

‘Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.’

Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. Toe begin Hy hulle toespreek: ‘Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.’

Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond.”

Soos ek gesê het, met Jesus in ons midde, gaan mense beleef: God is self hier en Hy praat met my!

Maar kom ons sê sommer ook dadelik vir mekaar: As ons wil hê mense moet dit beleef, dan moet “die woord” wat ons aan hulle bedien, werklik ‘n “Woord van God af” wees! En daarvoor moet God eers met jou vooraf praat!

Soos Rom. 10:14 tot 15a sê: “Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?

En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: ‘Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.'”

Dan word daardie “woord” wat ons daar in die Ekklesia bring werklik dit wat Heb. 4:12 sê: “Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.”

2 Tim. 3:15 tot 17 gaan dan daar tussen ons gebeur: “Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

As Jesus se volgelinge byeen is en Jesus werklik tussen hulle is, sal hulle beleef hoe Hy self hulle lei deur Sy stem.

Daar is natuurlik net een ware toets vir of iets wat ons hoor werklik God is wat praat en die waarheid is en dit is die Bybel self. Daarom moet alles wat in die ware Ekklesia gesê word altyd getoets word aan dit wat in die Bybel staan. Klop dit nie daarmee nie, dan weet ons dit is nie van God nie.

Natuurlik sal die hart van daardie woord altyd op die een of ander manier ons herinner aan die goeie nuus dat Jesus Christus die Koning is wie se koninkryk aan die kom is op planeet aarde. Juis daarvoor moes Hy aarde toe kom om gekruisig te word, te sterf en op te staan, om so die vyand se mag oor ons te breek.

Ons sal ook gedurigdeur mekaar herinner aan dit wat in Rom. 10:8 tot 17 staan: “‘Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.’ En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.

Die Skrif sê tog: ‘Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.’

‘Niemand nie!’ Dit maak dus geen verskil of ‘n mens ‘n Jood of ‘n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. .Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.”

Christo Nel – www.nuwewyn.co.za

Scroll to Top