
Luister. Wanneer jou geliefde wil praat, luister sonder om jou aksies te verdedig, te verduidelik, te regverdig of te verskoon. Moenie hulle “wanpersepsies” probeer regstel of hulle pyn probeer verminder deur dit af te skiet nie.
Bekragtig. Moenie vir iemand sê: “Jy mag nie so voel nie.” Wanneer mense oor hulle pyn praat, is hulle dikwels besig met die genesingsproses. As jy vir hulle sê dat hulle emosies geldig is, eerder as om hulle simpel of swak te laat voel, bemagtig jy hulle om deur die negatiewe emosies te werk.
Vra om verskoning. Ja, weer ‘n keer! Wie ook al gesê het: “Ware liefde beteken dat jy nooit hoef jammer te sê nie,” het nie veel geweet van menseverhoudings nie. Elke opregte verskoning help in die genesingsproses. ‘n Innige “Ek is so jammer” is salf vir die seergemaakte siel. Smeer dit aan totdat dit nie meer nodig is nie – en jou geliefde sal vir jou sê wanneer.
Herstel. Bied aan om die pyn wat jy veroorsaak het, te help regmaak. “Ek weet ek het jou seergemaak en ek wil regtig weet wat ek kan doen om die skade te herstel.” Wanneer jy hierdie woorde opreg uitspreek, kan dit jou deel maak van die oplossing en nie net die oorsaak van die probleem nie.
God het gesê: “Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek gaan jou gesond maak.” Hoe gouer jy aktief betrokke raak in die genesingsproses, hoe vinniger sal jy uit die strafhok kan kom en terug op die veld stap.
© Radio Kansel 2008 (www.radiokansel.co.za)


