Euroklidon

RKEuroklídon! Dit is die enigste storm waarvoor daar ‘n naam gegee is in die Bybel. Dit beteken “orkaan” en Paulus moes daardeur vaar om sy bestemming te bereik:


(1) Jy gaan deur storms moet vaar om jou doel te bereik. “Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word,” (Hand. 27:20). Daar sal dae kom wanneer jy gaan wonder of jy dit ooit gaan maak. Deur God se genade sal jy!


(2) Storms openbaar hoe goed jy vir God ken. “Verlede nag het daar ‘n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort en wat ek dien. Die engel het vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus,'” (Hand. 27:23-24). Dit is die moeilike tye wat openbaar hoe sterk jou God-konneksie is.


(3) God kan ‘n sinkende skip in ‘n sukses omskep. Kyk na ‘n paar belangrike punte in die storie: (a) Soms moet jy goed oorboord gooi (Hand. 27:18). (b) Ten spyte van jou beste pogings sal jy nou en dan wel strand (Hand. 27:26). (c) Jy moet onthou wat God vir jou gesê het en daaraan vashou (Hand. 27:25).


(4) Baie keer het die ergste ding wat kon gebeur goed uitgewerk. God het die storm gebruik om die evangelie aan die eiland Malta te bring. Kyk wat gebeur met Paulus en sy reisgenote toe hulle die eiland verlaat: “Hulle het ons met baie geskenke vereer, en toe ons vertrek, het hulle ons van alles voorsien wat ons nodig gehad het” (Hand. 28:10).


Hou op om jou te bekommer, God sal aan jou voorsien op maniere wat jou sal verbaas. As jy sy kind is, is jy nie ‘n slagoffer van jou omstandighede nie. Jou toekoms is nie in die hande van mense nie, maar in die hande van die God. En Hy pas sy besittings op!


© Kopiereg Radiokansel 2007 (www.radiokansel.co.za)

Scroll to Top