Die krag van aanmoediging (2)

Goethe het gesê: “Behandel ‘n man soos wat hy is, en jy maak hom net slegter. Maar behandel ‘n man asof hy reeds sy potensiaal bereik het, en jy maak hom wat hy veronderstel was om te wees.”

Op ‘n dag het ‘n skoolhoof drie onderwysers ingeroep en vir hulle gesê: “Julle is ons beste onderwysers, so ons gaan vir julle negentig hoogsbegaafde leerlinge gee om te sien wat julle met hulle kan doen.” Daardie leerlinge het dertig persent meer behaal as die ander leerlinge in die skool. Aan die einde van die jaar het die hoof die drie onderwysers weer bymekaargeroep en gebieg: “Julle het nie die beste leerlinge gehad nie; hulle was gemiddeld. Ons het hulle blindelings gekies en aan julle toegewys.” Die onderwysers het aangeneem dat dit hul briljante onderrig was wat die leerlinge so goed laat presteer het. Hierop het die hoof gesê: “Ek moet oor nog iets bieg. Julle is nie die beste onderwysers nie; julle name was bloot die eerste drie wat ons uit ‘n hoed getrek het.” So, waarom het daardie leerlinge en onderwysers op so ‘n hoë vlak presteer? Want hulle is aangemoedig om te glo dat hulle dit kon doen! Die bofbal-legende, Reggie Jackson, het gesê: “Ek kan jou vertel wat die geheim is van ‘n goeie spanbestuurder: hy weet hoe om spelers te laat glo dat hulle beter is as wat hulle werklik is. Hy dwing jou om in jouself te glo. Hy vertel jou dat hy in jou glo. En sodra jy geleer het hoe goed jy regtig is, sal jy nooit weer minder as jou beste spel kan lewer nie.” Gaan vandag en moedig iemand aan!

Bron: Radiokansel

Scroll to Top