
In sy boek, What happy people know, skryf dr. Dan Baker: “Dit het gelyk of die man voor my alles gehad het: geld, vryheid, vriende en ‘n gesin. Maar hy het nie die een ding gehad wat hy die meeste wou hê nie: geluk… sy kinders was vervreem van hom, sy vrou het sy obsessie met sy werk gehaat en hy het geen tyd vir ontspanning gehad nie.” Miskien lees jy hierdie stuk en dink: “Ja, maar dit geld nie vir my nie. Ek weet ek sou gelukkig gewees het in sy situasie!” Nee, geld kan nie geluk koop nie; dit maak nie saak hoeveel jy het nie, dis nooit genoeg nie. Die vrees sal altyd fluister: “Jy sal nie sekuriteit hê as jy nie meer kry nie.”
Wat is die geheim van geluk dan? Paulus skryf: “Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom. Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê… Ek kan alles doen deur Hom wat my krag gee.”(Filippense 4:11-13 NLV).
As jy werk na God se doel vir jou lewe, is geld sekondêr. Jou ware statussimbole is verlossing, geestelike groei, ‘n veilige huis, spesiale vriende en die bevrediging dat jy doen wat God jou geroep het om te doen.
Bron : Radiokansel




