Dankbaarheid

thankful0807

thankful0807Om ‘n dankbare hart te hê moet jy leer om dankbaar te wees vir mense en geskenke wat nie perfek is nie. Wees dankbaar wanneer jou kind die bed probeer opmaak, al doen hulle dit nie heeltemal reg nie. Wees dankbaar wanneer jou gade hul liefde uitdruk al is dit op ‘n lomp manier. Wees dankbaar dat jou liggaam nog kan beweeg al het jy plooie. Moenie wag om dankbaar te voel nie. Die dink en doen sal lei tot die gevoel. “Wees in alle omstandighede dankbaar”: hierdie bevel roep jou tot oortuiging en aksie.

James Dodson het ‘n boek met die naam Final Rounds geskryf oor die laaste maande van sy pa se lewe. Hulle was albei kranige gholf spelers en toe sy pa met ‘n terminale siekte gediagnoseer is, het James besluit om hom Skotland toe te neem om op ‘n wêreldbekende gholfbaan te speel. Op ‘n stadium het James se pa hom uitgevra oor sy huwelik en familie. James het net vaag geantwoord: hy was so besig met sy werk dat hy nie veel tyd vir enigiets anders gehad het nie. Sy pa se woorde aan hom was: “My grootste wens is dat jy die lewe stadiger sal benader. Die gevaar van jou groot ambisie is dat jy so hard werk dat jy dalk eendag agterkom dat al die dinge waarvoor jy so hard gewerk het, reeds in jou besit was.”

Paulus skryf, “Word wakker, jy wat slaap; staan op tussen die dooies uit, en Christus sal jou verlig” (Ef 5:14 NLV). Elke nou en dan word ons wel wakker. En wanneer dit gebeur besef ons hoe dankbaar ons moet wees vir al die dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar.

Kopiereg 2009 Radiokansel

Scroll to Top