Bread of Heaven

bread

breadDie Here sê toe vir Moses: “Ek het die verset van die Israeliete opgemerk. Sê vir hulle: Teen skemeraand sal julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is. … Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet.” Eksodus 16:11-12, 15

Walliesers hou nog altyd van sing. In die 1700’s was daar egter nie ‘n wye keuse Walliese geestelike liederebeskikbaar  nie. William Williams het dit egter verander. Hy wou ‘n dokter word, maar in 1737 op 21-jarige ouderdom, hoor hy in Talgarth die evangelis, Howell Harris, preek en net daar besluit hy om sy lewe aan die bediening te wy. Williams het een van Wallis se beroemdste liedskrywers geword.

Hy skryf “Bread of Heaven” of soos baie van ons dit ken, “Guide me, o Thou Great Jehovah”, in 1762. Peter Williams, nie familie van William nie, maar bekend vir ‘n gewilde uitgawe van die Walliese Bybel, het ‘n deel van die lied in Engels vertaal met die titel “Prayer for Strength”. Hierdie vertaling van dié Walliese geestelike lied het meegebring dat “Bread of Heaven” wyd in die Engelssprekende wêreld gesing word. Die Walliese weergawe kan gehoor word in John Ford se 1941-film, “How Green was my Valley”. Dit was die laaste lied wat tydens prinses Diana se begrafnis gesing is en die eerste tydens prins William en Kate Middleton se troue. Dit is ook die nie-amptelike Walliese rugbylied en elke keer wanneer Wallis speel, sing die skare dit uit volle bors.

Ons het ook pragtige Afrikaanse woorde vir hierdie lied:

Here, Redder, groot en magtig,
U oorskou ons lewensp ad.
In u liefde en genade
Het U ook ons hand kom vat.
Heer, u leiding bring bevryding
U het ook my hand kom vat.
U het ook my hand kom vat.

In die oorspronklike lied vertel Williams met eenvoudige dog treffende woorde die verhaal van die Israeliete se reis deur die woestyn en herinner ons daaraan dat ons ook maar net reisigers deur hierdie wêreld is (pilgrim through this barren land). Die Israeliete was moeg, honger, verlore en hulle het genoeg van hulle stryd gehad. God het toe op die mees onverwagte manier vir hulle kos gestuur – brood uit die hemel.

Het jy al ooit so gevoel? Verward en dat alles te veel is. En het jy dan gewonder na wie om te draai vir hulp? Kom ons maak hierdie lied ons gebed vir die week. Die Afrikaanse woorde moedig ons aan om ons na die Here die Redder te wend want Hy is groot en magtig. Draai na Hom en vra Hom om ook jou hand te kom vat want sy leiding bring bevryding.

Bron : Vers ‘n Dag (Xanthe Hancox)

Scroll to Top