Sagmoedigheid

meekness2605

meekness2605Sagmoedigheid klink so baie na swakheid dat ons aan ‘lamsakkigheid’ dink. Jesus sê egter, ‘Gelukkig is dié wat sag van hart is, want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees.’ (Matteus 5:5 NLV). Sagmoediges wedywer, manipuleer of kompeteer nie soos ander nie, tog sal hulle álles beërwe. Wanneer jy iets ‘beërf’, hoef jy nie daarvoor te werk nie, jy ontvang dit omdat jy geliefd, kosbaar en familie is.

Sagmoedigheid word uit liefde gebore. Dit veroordeel nie, loop nie te koop met name nie, forseer nie, want liefde het niks om te bewys nie. Liefde is bekommerd wanneer die struktuur, die begroting of die maatskappybeeld belangriker word as die mense wat ons moet dien; is bedroef wanneer daar nie tyd is om na jongmense, oumense, siekes en lydendes om te sien nie. Sagmoedigheid is ‘n deug wat moeilik in ons samelewing te vinde is. Daar word verwag dat ons dinge gedoen sal kry, betyds, selfs al word mense in die proses vertrap. Slegs sukses, prestasie en produktiwiteit tel; daar is geen plek vir sagmoedigheid nie.

Paulus was ‘n kragbron vir God, tog skryf hy, ‘… Al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het, was ons soos babatjies teenoor julle. Of soos ‘n ma…’ (1 Tess 2:7 NLV). ‘n Sagmoedige persoon stap ligvoets, luister aandagtig, kyk met teerheid, en raak met eerbiedigheid en sensitiwiteit aan. Die sagmoediges weet dat ware groei troeteling vereis, nie dwang nie. Daarom, laat ons ons met sagmoedigheid klee, want in ons harde en onbuigsame wêreld is sagmoedigheid ‘n lewende herinnering aan God se teenwoordigheid in ons midde.

Bron : Radiokansel

Scroll to Top