Om waterbakke te kap wat nie water hou nie!

water240210

water240210Voel jy asof iets in jou lewe ontbreek? Soek jy van plek tot plek, en persoon tot persoon daarna? Totdat jy God nie sentraal in jou lewe plaas nie, sal jy aanhou om “bakke” te kap “wat nie water hou nie.”

Almal wil geliefd en suksesvol voel, en soek vervulling in ons werk of by ander mense. Maar ‘n persoon of salaristjek kan nie doen wat God kan doen nie. “…’Daar rus ‘n vloek op dié wat hulle vertroue stel in gewone mense… Hulle is soos bossies in die woestyn met geen vooruitsig…Maar gelukkig is dié mense wat op die Here vertrou… Hulle is soos bome wat langs ‘n rivier staan, hulle wortels reik diep tot by die water. Hitte bedreig hulle nie… hulle hou nie op om vrugte te dra nie” (Jeremia 17:5-8 NLV). Vervulling kom nie deur meer geld, meer aansien of groter prestasie nie. ‘n Groter huis sal dit nie vir jou gee nie; jy sal net meer moet skoonmaak. ‘n Beter kar sal dit nie vir jou gee nie; jy sal net groter paaiemente afbetaal. ‘n Promosie by die werk sal dit nie vir jou gee nie; jy sal net meer stres en langer werksure hê. Salomo som dit mooi op: “Na alles wat jy gehoor het is die finale slotsom: Wees eerbiedig teenoor God en gehoorsaam sy gebooie. Dit word van alle mense gevra” (Prediker 12:13 NLV). Die Een na wie jy vandag soek, was nog altyd daar en Hy is vandag gereed om jou in jou nood tegemoet te kom. Nooi Hom net in!

Bron : Radiokansel

Scroll to Top