Herprogrammeer jou denke!

voices150310

voices150310Het jy geweet dat die stemmetjie in jou kop die sleutel tot meeste van jou vrese is? Dit is die stemmetjie van verdoemenis wat min of meer so klink: “Ek wil graag ‘n beter verhouding hê, maar as ek eerste toenadering soek en hulle reageer nie, gaan ek verwerp voel.” Of: “Ek wil graag verder studeer, maar as ek inskryf en dan nie die werk kan doen nie, gaan ek dom voel.” Sulke woorde word ‘n selfvervullende profesie. Tensy jy die negatiewe stemmetjie in jou kop stilmaak en vervang met geloofspraak, sal jy in ewige vrees lewe.

Jou denke is die teelaarde waarin jou gees moet groei; dit koester elke saadjie wat jy saai totdat dit gereed is om geoes te word. As jy dus nie die oes wil hê wat ‘n sekere saadjie sal voortbring nie, moet jy die saadjie uitwis, en ophou om dit te saai en te voed. Die eerste stap om jou vrese te oorwin, is om die negatiewe stemmetjie wat die moeilikheid veroorsaak, uit te ken. Dis nie maklik nie. Jy moet op die uitkyk wees, selfdissipline hê en bereid wees om jou denke te herprogrammeer. Deur jou denke te verander, sal jou hele lewe verander.

Job het gesê: “Wat jy besluit om te doen, sal gebeur.” Die fassinerende waarheid is dat, al voel jy soms nie dat jy regtig glo wat jy bely nie, jou innerlike self dít wat hy die hele tyd hoor, wel aanvaar en daarvolgens begin optree. Verban dus elke negatiewe gedagte wat jou terughou en herprogrammeer jou denke met God se Woord.

Bron : Radiokansel

Scroll to Top