
Jou vyand is volkome bewus van die beloning wat wag op geestelike groei, en wil jou daarvan beroof. God, wat weet wat op jou wag aan die ander kant van jou vrees, moedig jou aan deur te sê: “Ek sal jou nie verlaat nie, maar doen wat Ek beloof het.”
God het vir Abram gesê: “Moenie bang wees nie, Abram, want Ek sal jou beskerm en jou beloning sal groot wees” (Genesis 15:1 NLV). As Abram voor sy vrees geswig het, sou hy sy beloning kwyt wees. God het vir Josua gesê: “Wees sterk en dapper. Jy moet hierdie volk lei om die land… in besit te neem…Voer al die opdragte uit… Jy sal dan suksesvol wees in alles wat jy doen” (Josua 1:6-8 NLV). Wil jy suksesvol wees? Voer God se opdragte uit!
Die Bybel sê die volgende oor Satan: “…omdat hy ‘n leuenaar en ook die vader daarvan is” (Johannes 8:44 NLV). Satan sal jou belieg en bedrieg om seker te maak dat jy jou beloning misloop. Moet hom nie toelaat om dit te doen nie! Oorkom vandag jou vrees en maak aanspraak op die seën wat op grond van God se belofte, aan die ander kant op jou wag!
Bron : Radiokansel




