Rapport (Foto: Gerhard de Bruin)
Greytown
Dit het begin met 240 mans.
Verlede jaar was daar 7 000.
Dié naweek het 60 000 mans na die dorpie Greytown opgeruk
om te luister na die prediking van ’n aartappelboer.
En amper soos met die aartappeloes gebeur het in Faith
like Potatoes, dié boer, Angus Buchan se lewensverhaal, het die opkoms by die
Mighty Men-konferensie (MMC) op sy plaas, Shalom, alle verwagtinge oortref.
Teen Vrydag het die motors meer as 22 km tougestaan in die
grootste verkeersknoop tot nog toe in dié stil KwaZulu-Natalse dorpie. Party
mans het meer as ses uur gery aan die 80 km van Pietermaritzburg na die plaas.
Selfoontorings was oorlaai vanweë die sowat 35 000 van
hulle wat hul tente op Buchan se plase opgeslaan het.
Die konferensiegangers was van regoor die land en so ver
as Namibië, Zambië, Zimbabwe
en Botswana.
Sowat 130 mans het spesiaal uit Australië gekom.
In ’n stadium was daar kommer oor die dorp se brandstof-
en kosvoorraad. In ’n SMS-ketting is gevra dat mense bid dat die verkeersknoop
uitgestryk word.