Keuses beïnvloed jou lewe

KeusesDIE afgelope week het ek twee baie insiggewende artikels in Volksblad gelees wat oor seks by tieners en jong volwassenes handel.

Ek het besef die artikels belig iets van waardes, maar ook die keuses wat mense en veral jong mense moet uitoefen. Die volgende riglyne het ek besef kan ouers en jong volwassenes help om die regte keuses te maak.

Bou ‘n vertrouensverhouding met jou kinders en motiveer hulle om openlik hul vrae met jou te deel. Dit beteken ook dat jy nie moet veroordeel en altyd voorskriftelik wees nie, maar elke kind se uniekheid en keuses probeer verstaan.

Leer jou kind om “nee” te kan sê. Respek is ook om standpunt te kan inneem al is jy partykeer stroom-op ter wille van goeie waardes.

Leer jou kind dat sy/haar liggaam spesiaal is en dat seks voor die huwelik nie noodwendig ‘n gelukkige huwelik verseker nie.

Gelukkige verhoudings is gekoppel aan jou ingesteldheid, persoonlikheidsontwikkeling, ‘n leerbare ingesteldheid, kennis van jouself, kommunikasie en suksesvolle konflikhantering.

Gesinswaardes speel ‘n belangrike rol in die keuses van jong mense, veral by vriendskappe.

Skep geleenthede waar ouer en kind mekaar kan leer ken, soos wat die kind groter word. ‘n Huisvergadering kan help om mekaar te hoor in die verskillende fases waarin die gesin hulself bevind.

Skep prettige geleenthede in jou gesin en vestig ‘n paar basiese reëls waarby daar gehou word.

Keuses beïnvloed jou hele lewe. Aanvaar ook dat ek en jy nie al die antwoorde het nie, maar ons kan na mekaar luister. Onthou ook die bekende woorde: “Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is”.

 

Stephan van Heerden – Klipkerk

Scroll to Top