• 2014-03-17-12-03-05103719515
  • 2014-03-17-12-03-43195046250
  • 2014-03-17-12-03-071878311798
  • 2014-03-25-03-03-02462461642
2014-03-17-12-03-051037195151 2014-03-17-12-03-431950462502 2014-03-17-12-03-0718783117983 2014-03-25-03-03-024624616424

myn2505WELKOM. – Nadat 22 zama-zamas veilig deur reddingswerkers uit die donker mynskag hier gebring is, het dié helde ’n kring by die oop skag gevorm en saam die Here gedank dat alles veilig afgeloop het.

Dié manne van die protospan uit Carletonville, bygestaan deur plaaslike reddingswerkers, het sedert Dinsdagmiddag onverpoos gewerk en teen gister 22 vasgekeerde zamas uit die ou Arm-goudmyn se nr. 3-skag in Welkom gered.

Iemand op die toneel het aan Volksblad gesê die gebede ná die reddings het almal aangegryp en was baie roerend. “Hierdie mense waag hul eie lewe om die oortreders te red. Hulle stap die pad saam met God.”

Teen gistermiddag is na nog twee vasgekeerdes gesoek. Hulle is glo sowat 1,4 km ondergronds op die myn se 37ste vlak. Daar sal eers na lyke gesoek word wanneer al die lewendes gered is.

Die zamas, wat by ’n toe skag ingebreek het, het teen ’n selfgemaakte trapleer in die skag afgeklim toe dit gebreek het.

Die mans se lot het Dinsdag bekend geword toe twee van hul makkers wat uit die skag kon kom, gaan rapporteer het dat nege dood en 26 vasgekeer is.

Die swaar betonblad is Dinsdag van die uitgewerkte en afgeseëlde skag verwyder en ’n tydelike skagtoring is gebou om met die reddingsproses te help. ’n? Plastiekstoel aan ’n hystoestel, met ’n kamera wat ondergronds gebruik word om na vasgekeerdes te soek, is telkens in die donker skag laat sak. Die 22 is sowat 500 m ondergronds, op die 16de vlak, gekry.

Die zamas is ná hul redding almal op die skag ondersoek, maar nie een van hulle is beseer nie. Hulle is na die polisieselle in Welkom gebring en word onder meer van betreding aangekla, sê kapt. Stephen Thakeng.

Lerothodi Theko, attaché van die Lesotho-konsul, het gister gesê omdat die mense in hegtenis geneem is, het hy nie die geleentheid gekry om met hulle te praat en die omstandighede rondom die voorval vas te stel nie. Hy het ook nog nie navrae van naasbestaandes uit Lesotho gekry nie.

- Volksblad