• 2014-03-17-12-03-05103719515
  • 2014-03-17-12-03-43195046250
  • 2014-03-17-12-03-071878311798
  • 2014-03-25-03-03-02462461642
2014-03-17-12-03-051037195151 2014-03-17-12-03-431950462502 2014-03-17-12-03-0718783117983 2014-03-25-03-03-024624616424

Sy was maar ‘n skamele 6 jaar oud toe ek haar vir die eerste keer ontmoet het. Ek ry gewoonlik die 4 kilometer af strand toe elke keer as ek voel dat die wêreld vir my te klein begin word. Sy was besig om ‘n sandkasteel of iets te bou, en toe sy opkyk, kyk ek in die pragtigste blou ogies, so blou soos die see self.

strandlopertjie"Hallo", sê sy.

Ek antwoord met ‘n knik van die kop, nou nie juis in ‘n bui om te bodder met ‘n klein dogtertjie nie.

"Ek bou", sê sy.

"Ja, so sien ek. Wat bou jy?" Ek gee nou nie juis om wat sy bou nie.....

"Aag ek weet nie, ek voel maar net lus om in die sand te speel."

Die idee trek my nogal aan, en ek trek my skoene uit. ‘n Strandlopertjie sweef verby.

"Dis ‘n vreugde", sê sy.

"Dis ‘n wat?"

"'n Vreugde. Mamma sê dat ‘n strandlopertjie vir ‘n mens vreugde bring."

Die strandlopertjie verdwyn oor die duin. "Koebaai vreugde", mompel ek vir myself, "Hallo pyn!" Ek draai om om te loop. Depressie het aan my geknaag - my lewe was ‘n gemors.

"Wat is jou naam?" Hierdie dogtertjie gaan nie maklik tou opgooi nie.

"Robert", sê ek, "Robert Peterson."

"Ek's Wendy ..... ek is ses."

"Hallo Wendy"

Sy giggel. "Jy's snaaks", sê sy.

Ek lag, ten spyte van die donker wolk wat oor my gemoed hang, en ek stap aan. Haar klokhelder giggel-laggie volg my.

"Kom weer meneer P", skree sy, "kom sodat ons nog ‘n gelukkige dag kan hê!"

Na ‘n paar dae van onbeheerbare Boy Scouts, frustrerende vergaderings en ‘n ou kranklike moeder, het die son een oggend so vrolik geskyn dat ek die skottelgoedwater van my hande afgeskud het , en toe sê ek vir myself: "Robert, jy het ‘n strandlopertjie nodig." Die heerlike sout seelug wag vir my, en ek gryp my jas. Die windjie is ysig, maar ek stap aan en probeer die rustigheid van die strand indrink, daardie rustigheid wat ek so bitter nodig het.

"Hallo meneer P," roep sy my, "wil jy kom speel?"

"Wat het jy in gedagte?" Ek voel half vies vir hierdie inbreuk op my gedagtes.

"Aag, ek weet nie..... wat dink jy?"

"Wat van kennetjie?" vra ek half sarkasties.

Haar klokhelder laggie weerklink oor die strand. "Ek ken nie daai speletjie nie."

"Nou maar dan loop ons maar sommer."

Ek kyk af na die lewendige klein figuurtjie, en ek kan nie help om die delikate bleek gesiggie raak te sien nie. "Waar bly jy?"

"Daar annerkant", sê sy, en sy beduie in die rigting van ‘n paar somerhuisies.

Dis baie snaaks, dink ek. Om in die winter in somerhuisies te kom bly.... "En waar gaan jy skool?"

"Ek gaan nie skool toe nie - Mamma sê ons is met vakansie."

Sy babbel aanmekaar terwyl ons met die strand afstap, maar my gedagtes is baie vêr weg. As ek later huistoe ry, sê Wendy vir my dat dit ‘n baie lekker dag was. Ek glimlag vir haar - snaaks genoeg voel ek ook sommer baie beter.

Drie weke later jaag ek af na my strand toe. Dinge het nou net te veel vir my geraak, en ek is nie in ‘n bui om eers vir Wendy te groet nie. Ek sien iemand op die somerhuisie se stoep sit - seker Wendy se ma - en ek voel asof ek vir haar wil skree: "Hou jou dogtertjie asseblief vandag tuis!"

Ek stap gejaag, maar Wendy haal my in. "Asseblief, nie vandag nie!", snou ek haar toe, "Ek wil vandag alleen wees!" Sy lyk vandag onnatuurlik bleek en uitasem.

"Hoekom?" vra sy.

Ek gaan staan, draai om na haar toe en skree: "Want my ma is dood!" En skielik wonder ek waarom ek dit vir hierdie kind vertel.

"O", sê sy saggies, "dan is dit ‘n slegte dag."

"Ja", sê ek, "én gister, én eergister, en ... aag gaan tog net weg!"

"Was dit seer?" sy kan net nie ophou nie.

"Was wát seer?" ek is moedeloos, met die dogtertjie en met myself.

"Toe sy dood is?"

"Natuurlik was dit seer!" kap ek terug, sonder om die bedoeling agter haar vraag te verstaan. Ek draai om en stap haastig weg, versonke in my eie seer gedagtes.

‘n Maand of wat later, toe ek weer op die strand kom, was sy nie daar nie. Ek voel skuldig en skaam oor my gedrag, en ..... ek het haar nogal gemis. Ek stap na die strandhuisie toe en klop aan die deur. ‘n Vrou maak oop.

"Ek is Robert Peterson", sê ek, "ek mis jou dogtertjie só vandag, en ek het net gewonder waar sy is."

"O ja, meneer Peterson, kom in asseblief. Wendy het so baie van jou gepraat. Ek is so jammer dat ek toegelaat het dat sy jou pla. As sy ‘n oorlas was - dan vra ek om verskoning"

"Aag nee wat, sy is so ‘n borrelende klein dogtertjie." En skielik besef ek dat ek werklik bedoel wat ek sê.

"Wendy is verlede week dood, meneer Peterson. Sy het bloedkanker gehad - het sy jou nie gesê nie?"

Skielik draai die wêreld om my, en ek gryp haastig vir ‘n stoel. Ek is sprakeloos.

"Sy was so lief vir hierdie strand, en toe sy vra dat ons hierheen kom, toe kon ek nie nee sê nie. Sy het soveel beter hier gelyk, en hier het sy baie gelukkige dae gehad. Maar die laaste paar weke het sy baie vinnig agteruit gegaan." Haar stem bewe. "Sy het iets vir jou gelos ..... as ek dit net kan opspoor. Sal jy omgee om ‘n bietjie te wag - ek soek dit net gou?"

Ek knik my kop - ek soek vir woorde - maar hulle ontbreek. Wat sê ek vir hierdie pragtige jong vrou?

Sy gee vir my ‘n vuil koevert met "MR. P" op geskryf in groot kinderletters. Binne is ‘n tekening in helder kleure - ‘n geel strand; ‘n blou see en ‘n bruin voël, en onderaan die woorde: "A SANDPIPER TO BRING YOU JOY"

Ek kan die trane nie keer nie, en hierdie klip-hart van my wat lankal vergeet het wat dit is om lief te hê, raak week. Ek neem Wendy se ma in my arms: "Ek is so jammer, so bitter, bitter jammer", is al wat ek kan uitkry, oor en oor, en saam huil ons.

Daardie kosbare prentjie is geraam, en hang in my studeerkamer. Ses woorde - een vir elke jaar van haar kort lewetjie - sê vir my van harmonie, dapperheid en ‘n onvoorwaardelike liefde.

‘n Geskenk van ‘n dogtertjie met see-blou oë en hare die kleur van die seesand - sy het my geleer van die geskenk van ware liefde.

Hierdie ware verhaal is opgeteken deur Robert Peterson. Dit het meer as 20 jaar gelede afgespeel, en hierdie insident het sy lewe onherroeplik verander. Ons kan hieruit leer dat ons tyd moet maak om die lewe te geniet, en tyd moet maak vir mekaar.

Die lewe is so gekompliseerd - die gejaag en elke dag se probleme en traumas kan maak dat jy fokus verloor van die dinge wat rêrag saakmaak.

Gaan gee vir die mense in jou lewe waarvoor jy lief is vandag ‘n ekstra drukkie, net om te sê dat jy omgee en vir hulle lief is. En gaan stap ‘n draai in die tuin, en ruik aan die blomme. Drink die skeppingswonder van God in, en gee aan Hom die eer.

Wendy het nie maar toevallig op Robert se pad gekom nie - daar is nie so ‘n ding soos toeval nie. Sy was daar met ‘n doel. So bring die Here dinge op ons pad met ‘n doel - soms is dit nie lekker nie, maar sien die hand van God daarin, en dank Hom daarvoor.

Vertaal in Afrikaans deur Louis Nel (NG Kerk Noordkus)