• 2014-03-17-12-03-05103719515
  • 2014-03-17-12-03-43195046250
  • 2014-03-17-12-03-071878311798
  • 2014-03-25-03-03-02462461642
2014-03-17-12-03-051037195151 2014-03-17-12-03-431950462502 2014-03-17-12-03-0718783117983 2014-03-25-03-03-024624616424

oorstelpKIMBERLEY. – ’n Kalahari-boer was só oorstelp toe die reën gekom het waarvoor hy so lank gebid het, dat hy in die gietende reën by die stromende water op sy plaas in ’n dankgebed gaan neersak het.

Japie van Wyk van Vanzylsrus se seun Henrie was by en het hierdie spesiale oomblik op ’n foto verewig.

Japie, wat op die plaas Donkerbos boer wat aan die Botswana-grens geleë is, vertel hoe droog dit was.

Sedert Oktober verlede jaar het die boere in die omgewing diere begin verloor.

Die droogte het boere op hul knieë gedwing en sy gemeente, die Elshaddai-kerk wat uit nege huisgesinne bestaan, het in Januarie vir 21 dae gevas en gebid.

En toe kom die reën!

Japie sê van Woensdag 29 Januarie tot Saterdag 1 Februarie het sowat 170 mm reën in die omgewing geval.

“ ’n Ou bly maar op jou knieë en jy vertrou. Die Saterdag het 55 mm reën geval.

“Ek en Henrie het na die waterval sowat 300 m van ons huis gegaan om te kyk of die water afstroom.

“Dit het teen daardie tyd al goed gereën en die grond was nat. By die waterval het die water sterk gevloei.”

Dit is hier wat Japie nie anders kon nie as om uiting te gee aan sy vreugde en dankbaarheid. “Ek het met ’n blymoedige hart op my knieë geval en vir die Here dankie gesê. Dit het alles so spontaan gebeur. Ek het nie omgegee oor die rotse wat my knieë nerf-af geskaaf het nie. Ek was oorstelp van blydskap.”

Henrie het die oomblik met sy kamera vasgevang. Teen gister het daar reeds 200 mm reën in die omgewing geval.

(Lecrecia Prins : Volksblad)