• 2014-03-17-12-03-05103719515
  • 2014-03-17-12-03-43195046250
  • 2014-03-17-12-03-071878311798
  • 2014-03-25-03-03-02462461642
2014-03-17-12-03-051037195151 2014-03-17-12-03-431950462502 2014-03-17-12-03-0718783117983 2014-03-25-03-03-024624616424

0942001

PORT ELIZABETH. – Hul vurige gebede in ’n doringboom het die wonderwerk gestuur wat hom en sy gesin gisteroggend in ’n ­Karoo-kitsvloed net buite Willowmore help oorleef het.

Só het ’n oorstelpte Barry Hugo, van Kloof in Durban, gisteroggend telefonies gesê vanuit Willowmore, waar hy, sy vrou, Ester, en Rencia (22) en Jonathan (19) nog gewag het op ’n ­familielid wat hulle tot by ­George se lughawe sou neem.

Die Hugo’s se eie motor is in die amper-ramp afgeskryf.

Die drama het hom gister omstreeks 02:30 op die N9, 18km buite Willowmore, afgespeel nadat 200mm reën binne n uur oor die gebied uitgesak het.

“Ek het ’n poel water in die pad gesien en dadelik stadiger gery. Die water het hoog teen die motor opgestoot en toe is daar skielik ’n harde stamp teen die motor,” het Hugo vertel.

“Toe sien ek aan my kant net boomstompe en losgerukte padrelings en aan my vrou se linkerkant die afgrond waarheen ons gesleur word.”

Sekondes later is hul VW Jetta en sleepwa saam met die kolkende water en boomstompe van die pad en in die “kitsrivier” in getrek.

“Ek glo die sleepwa het gehelp dat ons motor nie omgedop en rondgetuimel het nie – die dak het heeltyd bo gebly. Dit is die eerste wonderwerk.”

Die tweede wonderwerk, sê Barry, was dat hulle een van die motordeure kon oopkry en op die motor se dak kon klim.

Só is hulle dryf-dryf en biddend verder rivier-af totdat die motor en sleepwa teen ’n doringboom vasgespoel en daar tot stilstand gekom het.

Maar voordat hulle ’n sug van verligting kon slaak, het die vloedwater op die N9 ’n verbygaande vragmotor se sleepwa ook in die “kitsivier” afgespoel.

“Ons het geweet as dáái ding ons tref, is ons dood. Ons het al vier blitsvinnig in die doringboom geklim.”

In die boom, met kolkende water om hulle in die stikdonker, het die erns van die situasie hulle hard getref.

“Ons het hardop begin bid tot God en gevra vir ’n wonderwerk. Hy het ons met ’n wonderwerk geantwoord, want skaars 20minute later het die siedende watermassa gesak en kon ek en my gesin deurloop tot by die pad.”

Daar het ’n voertuig by hulle stilgehou en hulle kon die polisie met die bestuurder se selfoon ontbied.

Die nooddiensvoertuie was blitsig op die toneel en só ook boere van die omgewing. Een boer het selfs sy viertrek-bakkie gebring om die sleepwa uit die rivierloop te trek.

Vir Barry was die gasvryheid wat hy en sy gesin deur die inwoners van Willowmore gebied is, ongekend.

“Die polisiespeurder is met sy blink skoene in die modder om te help met die uithaal van die sleepwa en die gastehuis het daardie tyd van die oggend reggestaan met warm drinkgoed. Jy kry nie dit in die stad nie.”

Barry is later gisteroggend terug na die vloedtoneel om van hul besittings uit die sleepwa te haal.

“Ek besef toe eers die wilde, woeste rivier van gisteraand is n droërivierloop sonder naam.

Hy het skertsend gesê hy sal nou geen meer stories oor die “droë Karoo” glo nie.

Cara-Lee Scheun (Volksblad)