straatwerkPeter (alias the Pope) het ses jaar gelede die Here Jesus ontmoet en het verander van 'n amper sewentigjarige, humeurige man wat fout vind met alles, in 'n man met 'n roeping. Die Here het hom geroep om te bid vir ongebore babas wat hulle weg vind na aborsieklinieke. Die afgelope jaar het hy 'n paar maal per week voor die aborsiekliniek in Breëstraat, Kaapstad, gaan bid. Met Paasfees om die draai, het Peter beleef dat die Here hom roep om vir die 40 dae voor Paasfees, elke dag vanaf middernag tot nege-uur die volgende oggend die kliniek te gaan bid. Peter is ons buurman en elke aand, klokslag om 23:30, word sy rooi Uno (hy noem dit God's Ferrari) se neus na die stad se kant toe gestuur.

Die afgelope Vrydagnag het ek en vier engele van Tafelsig in Mitchellsplein net voor een-uur in die nag saam met Peter gaan bid. Die een tannie was op haar knieë en die ander een se trane het van haar wange af gerol. Die uitroepe om lewe het weerklink deur die strate en op daardie oomblik het ek geweet dat ons God in die hemel ons gebede hoor. 'n Heilige oomblik.

Ons groepie het aangeskuif na ons volgende uitreikplek : “die klubs waar die seemanne graag kuier (en waar daar seemanne is, is daar gewoonlik vroue betrokke in prostitusie...). Ons het vir 'n paar oomblikke buite die kuierplekke rondgehang en met die groot uitsmyter gesels. Meisie nommer een het uitgekom en vir my 'n drukkie kom gee. "I remember you, I remember you, I lost your telephone number, we need to talk". Sy het ook na die tannies toe gegaan en hulle het haar met groot liefde omhels en baie spesiaal laat voel. Meisie nommer twee het uit 'n kafee gestrompel en ons het dadelik begin gesels. Sy het gesê dat sy moeg is vir die lewe van prostitusie en moeg is vir die lewe in die algemeen. Ek het vir haar 'n drukkie gegee en aangemoedig om vir die tannies ook 'n drukkie te gee. Sy het dit gedoen en elkeen van die tannies het in haar oor gefluister hoe kosbaar en spesiaal sy is. Sy het weggeloop van ons af en ons het gesien hoe sy die trane van haar wange afvee. Niemand is bestand teen opregte liefde nie. Nóg 'n heilige oomblik.

Tussen die nagklubs se gedruis en die motors se gedreun en die mallemeule van mense en duisende rotte wat rondhardloop in die middel van die nag op Kaapstad se strate het ons net weer besef: God skep heilige oomblikke.

(Die Maandagoggend na die Vrydagnag se uitreik het meisie nommer een gebel en gesê: "We need to talk." Ons het mekaar later vir koffie ontmoet en sy het 'n deel van haar lewe met my gedeel. Dis was óók 'n heilig oomblik.)

Lisa Truter (www.straatwerk.org.za)