deure-300x152DIE getal Christen-martelare wat wêreldwyd vir hul geloof gesterf het, het verlede jaar verdubbel vergeleke met die vorige jaar, luidens die jongste jaarlikse verslag deur Geopende Deure.

Die dodetal van Christene in Sirië was in 2013 hoër as die totale internasionale syfer in 2012.

Geopende Deure, wat vervolgde Christene oor die wêreld heen ondersteun deur onder meer die verspreiding van Bybels, het gister bekend gemaak dat 2123 martelaarsterftes in 2013 aangemeld is, teenoor 1201 die vorige jaar. Verlede jaar was daar in Sirië alleen 1213 sulke sterfgevalle.

Frans Veerman, die organisasie se hoof van navorsing, het volgens Reuters gesê hierdie is minimale getalle wat bloot berus op voorvalle waaroor die media verslag gedoen het en wat bevestig kon word.

Geopende Deure het ook weer ’n “wêreldwaaklys” bekend gestel waarin lande in rangorde geplaas word volgens die beperkinge wat geplaas word op Christene om hul geloof uit te leef.

Noord-Korea is die 12de opeenvolgende jaar boaan die lys.

Luidens die organisasie se verslag is dit opvallend hoe Christenvervolging toegeneem het in “mislukte” lande, “swak state waar maatskaplike en politieke strukture sodanig ineengestort het dat die regering min of geen beheer meer het nie”.

Dit blyk ook uit die verslag dat die hoofdryfveer agter die vervolging van Christene in 36 van die 50 ergste lande Moslem-ekstremisme is.

Die tien lande boaan die waaklys waar Christene die meeste druk en geweld ervaar, is Noord-Korea, Somalië, Sirië, Irak, Afganistan, Saoedi-Arabië, die Maldive-eilande, Pakistan, Iran en Jemen

Christo van Staden

Volksblad