straatwerkHet jy geweet meer mense sterf jaarliks aan vallende kokosneute as aan haai-aanvalle? Regtig! Die haai-navorser, George Burgess, het bevind dat gemiddeld 150 mense jaarliks sterf vanweë vallende kokosneute, wat 15 maal meer is as diegene wat jaarliks wêreldwyd aan haai-aanvalle sterf. Haai-aanvalle haal egter altyd die nuus. Mense kry angsaanvalle oor die ou bekende fliek "Jaws". Maar niemand sal 'n fliek ernstig opvat met 'n titel soos "The Killer Coconut Tree" nie.

Ons lewens bestaan daagliks uit persepsies - byvoorbeeld, tieners is selfbehep en volwassenes is outyds en verstaan hulle nie (Die Time tydskrif se voorblad praat van die "me me me generation"). Dink gou vir 'n oomblik aan die eerste persepsie wat in jou gedagtes opkom.

By Straatwerk ontvang ons byna weekliks 'n verskeidenheid van jeuggroepe om te kom deelneem aan ons naguitreike. Wat gebeur daar? Ons doel is om die liefde van Christus op praktiese maniere te gaan wys aan diegene wat deel is van die naglewe van Kaapstad - byvoorbeeld jongmense by die nagklubs, vroue vasgevang in prostitusie en hulle wat eensaam ronddwaal. Dit is vir ons belangrik om hierdeur negatiewe persepsies af te breek. Ons sien gereeld dat Christen jongmense 'n praktiese verskil wil maak. Deur praktiese blootstelling kom hulle in kontak met die lewens van gebroke mense. Hulle sien dat daar baie mense is wat koers verloor het in die lewe en dat ons as Christene 'n verantwoordelikheid teenoor hulle het.

Ons weet almal jongmense dink in prentjies - dink maar net aan al die foto's en videogrepe wat rondgestuur word deur die sosiale media. By Straatwerk het ons besef ons moet geleenthede vir jongmense skep dat die Here die regte prentjies in hulle gedagtes kan help vorm. Ons weet jongmense worstel met die vrae: Wie is ek? Maak ek vir iemand saak? Wat is my unieke plekkie in die lewe? Hulle smag na aanvaarding.

Wanneer hulle tydens 'n uitreik agterkom dat ek vir iemand iets kan beteken, dat die Here vir my wil gebruik, maak dit 'n groot verskil in hulle persoonlike en geloofsgroei.

'n Paar jaar gelede het Bill George, van die Harvard Besigheidskool, 'n ambisieuse studie gedoen om te probeer vasstel wat die karaktereienskappe van suksesvolle leiers is. Na onderhoude met 125 topleiers was hy moedeloos. Geen ooglopende kenmerke het uitgestaan nie. Toe gaan lees hy weer al sy notas. Skielik het 'n lig aangegaan toe hy raaksien dat die leiers een gemeenskaplike deler het - hulle eie tekortkominge.

Almal het erken hulle het iewers misluk weens groot ego's, foute of hulle dwaasheid om na raad te luister. Hulle moes leer om eerlik te raak oor hulle swakhede en hoe om terugslae te hanteer. Dit is 'n vals aanname om te dink dat jou lewe heeltemal uitgesorteer moet wees voordat die Here jou kan gebruik. Gaan lees weer hoe Paulus in 2 Korintiërs skryf oor sy eie swakhede en tekortkominge.

Deur jou voorbeeld, jou woorde en jou optrede kan jy help om verkeerde persepsies af te breek en reg te stel.

Groete van Fourie en almal by Straatwerk.