• 2014-03-17-12-03-05103719515
  • 2014-03-17-12-03-43195046250
  • 2014-03-17-12-03-071878311798
  • 2014-03-25-03-03-02462461642
2014-03-17-12-03-051037195151 2014-03-17-12-03-431950462502 2014-03-17-12-03-0718783117983 2014-03-25-03-03-024624616424

ImageOns dierbare Vader ken elkeen van ons só goed. Hy weet presies wat ons op enige bepaalde tydstip doen, dink en voel. Hy ken ons drome en vreugdes, ons swaarkry en pyn en ons teleurstelling en skuldgevoelens maar alte goed. En dan’s Hy daar vir ons. Bý ons. Mét ons. In ons!

En Hy is in liefde by ons. So lees ons in Romeine 5:5: Wanneer ons ons hoop op God stel, sal ons nooit teleurgesteld wees nie. Want Hy vul ons lewens elke dag met sy liefde. Dit doen Hy deur die Heilige Gees wat by ons bly.

Is dit nie wonderlik om te weet dat ons grote en heilige God elke oomblik van elke dag by ons is nie? Dat Hy ons vreugdes, vrese, teleurstellings en swaarkry as’t ware sáám met ons beleef. En dat Hy in daardie dinge ons hand … ons hart … styf vashou. Daarom kan ons Hom onder alle omstandighede onwrikbaar vertrou.

Vra jouself vandag: Vertrou jy God met jou léwe? Gee jy elke oggend jou gedagtes, besluite, optrede, woorde en emosies vir Hom? Glo jy onomwonde dat Hy jou nooit sal verlaat en jou nooit in die steek sal laat nie? Indien wel, sê Paulus, sal swaarkry nie ons blydskap wegneem nie. Dan sal al die dinge wat met ons gebeur, ons vorm en slyp om nog meer op Hom te vertrou sodat ons mettertyd ’n al hoe sterker Christelike karakter sal vorm. (Rom. 5:3-4)

Weet vandag opnuut: God is áltyd by jou om jou met sy goedheid te bederf. Hy’s daar om saam met jou te droom, in jou blydskap te deel en jou oorwinnings te vier. Maar Hy’s ook daar om jou in jou teleurstelling en pyn styf teen sy bors vas te hou en die trane van jou wange af te vee. Sy vrede is in jou wanneer onrus jou wil oorweldig; sy wysheid is voor jou wanneer jy koers soek; sy beskerming is om jou as gevaar dreig en sy teenwoordigheid by jou as jou wêreld inmekaar tuimel.

As God so getrou is aan jou, jou met soveel deernis wil dra en jou so onbeskryflik liefhet, waarom sal jy enigsins probeer om sonder Hom te leef? Gee vandag en elke dag opnuut weer jou lewe vir Hom in dié seker wete dat Hy jou só goed ken. Presies weet wat jy dink, doen en voel .... en jou dan met oorgawe liefhet.

Milanie Vosloo (e-Kerk)