• 2014-03-17-12-03-05103719515
  • 2014-03-17-12-03-43195046250
  • 2014-03-17-12-03-071878311798
  • 2014-03-25-03-03-02462461642
2014-03-17-12-03-051037195151 2014-03-17-12-03-431950462502 2014-03-17-12-03-0718783117983 2014-03-25-03-03-024624616424

Lost CoupleAlmal waarsku ons dat die laaste 80km van die bestaande roete wat ons wil volg na die Drakensberge is net vir bakkies en nie vir gewone motors vanweë die toestand van die pad weens padwerke nie. Die ompad is seker maklik ‘n addisionele 280km. Ek bel die hotel en vra uit. Die dame bevestig dieselfde en ons besluit om die afdraai verby te gaan en die ompad te volg.

By die huis het ek die hotel se koördinate op my GPS ingevoer omrede die hotel nie ‘n straatadres het nie. Ek was al voorheen in die rigting derhalwe is die GPS daar om my die tydfaktor aan te dui, en dalk… seker maar ook omrede ek ‘n GPS het…

Met die afdraai later voor ons, sien ek die padwerke begin sommer binne die eerste 200m na die afdraai. Hardop motiveer ek weer myself dat die ompad nou beslis die enigste uitweg is.

By die Clarens afdraai tussen Harrismith en Bethlehem, steur ek my nie veel aan die GPS wat wil hê ek moet links draai Bethlehem se rigting toe nie. Toe die tannie die derde keer wil “recalculate” maak ek haar stil.

Ons rek bene in Harrismith, en met die wegtrek wil die tannie my weer deurmekaar maak en dit veroorsaak dat ek 2 keer om dieselfde sirkel “drift” voor ek haar weer stilmaak en die pad ry wat ek ken. Ons is spoedig op die N3 tussen al die Durban verkeer, betaal selfs ‘n slag R54 aan tolgeld.

Teen die tyd is dit nou al goed donker en ek moet begin staatmaak op my “stom” GPS. By Bergville aangekom laat my “logika” my in die steek en verdwaal ek in die dorp (Ek vermoed my logika was dalk gebaseer op Winterton van 10 jaar tevore…)

Ek luister maar na die GPS en die ding vat my in ‘n rigting wat presies die teenoorgestelde rigting is as wat my logika wil volg. Omrede die GPS nie kan verkeerd wees nie, aanvaar ek my lot en ry verder. By die plaaslike nedersetting wil die tannie van die GPS my laat afdraai op ‘n grondpaadjie wat beslis nie die korrekte pad kan wees nie. Ons draai om en stop langs die pad.

Ek beloer die GPS en voeg weer die koördinate in. Draai weer om en sien ons het nog sowat 80 km om te ry.

Die pad raak lateraan sleg en Zelda wonder hardop of die deel van die pad slegter is as die padwerke wat ons vermy het. Die tweede keer wat ons ‘n slaggat tref en ons lyk soos iemand wat op een van daardie angswekkende pretparke goeters ry, neem ons spoed dramaties af en kruip ons soos seesiek skilpaaie van die een gat na die volgende.

Lateraan wonder ek hardop of Zelda nie maar solank moet vooruitloop hotel toe en die ketel gaan aansit vir koffie nie.

Die volgende oomblik, sien ek aanwysings; links, Clarens, regs, Harrismith!

Ons kom aangekruip by dieselfde afdraai wat ons 4 ure tevore vermy het.

Ek en Zelda is sprakeloos.

Die GPS is egter heel in sy skik en die tannie vertel my in mooi Engels om regs te draai.

Ek volg soos ‘n slaaf, die verbystering en onsekerheid duidelik sigbaar tussen die plooie van my frons.

By dieselfde Bethlehem / Harrismith afdraai waar ek vroeër die middag regs gedraai het, volg ek soos ’n bobbejaan die tannie se instruksies en draai links… Kestel is 30km.

Ek stop en bekyk alles weer. Ek volg die padkaart wat my GPS het en sien die ding wil my na ‘n hotel in Kestel neem. Ek weet die hotel waarheen ons oppad is, was nog laas in die Drakensberge, beslis nie in Kestel nie.

Dis 10 uur, ons is reeds 9 ure op die pad. Die afstand is normaalweg nie langer as 4 ure nie.

Ek probeer elke beskikbare nommer van en vir die hotel se 24 uur diens bel, maar geen een werk nie.

Ek bespeur my geduld se “reserwe tenk” begin leeg loop toe ek ernstig oorweeg om die GPS en die Engelse tannie by die venster uit te gooi en heen en weer daaroor te ry. My selfoon is ook selfs by hierdie gedagte ingesluit.

Oplaas sit ek die GPS af, draai om en volg my instink soos ek dit laas onthou het en volg die pad vol padwerke en slaggate en kom net na middernag aan by ons bestemming.

Die Sondag oppad terug, lag ek en Zelda kliphard in die motor oor ander dorpe se padtekens wat waarsku oor slaggate. Hulle het geen idee wat slaggate is nie.

Eintlik het ons (of sal dit ek wees), elke slag verdwaal wat ons gewaag het om die hotel se gronde te verlaat. Dit het later bygedra tot groot vermaak, veral van Zelda se kant af.

Elke mens sal by tye voor uitdagings te staan kom. Ek het wel geleer wat die gesegde beteken “om weer om die berg te gaan”. Dit hoef nie altyd ‘n negatief ervaring te wees nie, mens leer terwyl jy mislukkings weer aanpak en kan jou ervaring goed gebruik in die toekoms, dalk wanneer dit regtig nodig is.

Die beste van die naweek was dat ek en Zelda elke minuut kon deel ongeag waar ons was en die tyd wat ons vir mekaar kon uitkoop, goed aangewend het.

Vreugde!

Johann