• 2014-03-17-12-03-05103719515
  • 2014-03-17-12-03-43195046250
  • 2014-03-17-12-03-071878311798
  • 2014-03-25-03-03-02462461642
2014-03-17-12-03-051037195151 2014-03-17-12-03-431950462502 2014-03-17-12-03-0718783117983 2014-03-25-03-03-024624616424

FrancesEn nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Romeine 12:1

Frances Ridley Havergal (1836-1879) was uitsonderlik begaafd. Op die ouderdom van vier kon sy reeds lees en skryf. Sy het haar eerste bundel gedigte op die ouderdom van sewe jaar geskryf. Sy was vlot in Latyn, Grieks, Hebreeus, Wallies en Frans. Sy was dol oor ski in die Switserse Alpe – 'n ongewone ontspanningsaktiwiteit in die negentiende eeu. Sy was 'n begaafde musikus. Sy was 'n geliefde skrywer en mense het haar boeke wyd gelees – sy was die eerste vrou voor die twintigste eeu van wie se boeke daar meer as 'n miljoen eksemplare gedruk is. Sy het ook baie Christelike liedere geskryf wat steeds deur Christene regoor die wêreld gesing word. 

Een van Havergal se mees bekende liedere is "Neem my lewe laat dit Heer". Ten spyte van al haar talente en opvoeding het Frances Havergal 'n kinderlike geloof gehad en het sy volkome op haar Here vertrou. Dit blyk duidelik uit die volgende reël:

Neem my lewe, laat dit, Heer, U gewy wees meer en meer;

laat my hart gedurig juig en van dankbaarheid getuig!

In een van die strofes is daar 'n reël: "Neem my goud en silwer, Heer – niks noem ek my eie meer". In 1878, vier jaar nadat sy die lied geskryf het, skryf sy aan 'n vriend: "Die Here het vir my gewys hoe om nog 'n treetjie in my geloofslewe te gee, en natuurlik aanvaar ek dit met groot vreugde. "Neem my goud en silwer, Heer" beteken nou dat ek al my ornamente pak vir die Kerk Sendinghuis waar hulle van alles vir my ontslae sal raak. Dit sluit in 'n juwelekabinet wat geskik is vir 'n gravin. Ek dink nie ek het al ooit goed met soveel vreugde gepak nie."

Frances het verstaan wat Paulus bedoel het in sy brief aan die Romeine wanneer hy na die wesenlike van die godsdiens verwys. Elke aspek van ons lewens moet deel uitmaak van die offers wat ons God gee, van ons aanbidding. Dit maak die godsdiens wat ons beoefen sinvol. Aanbidding is nie net gebed of die liedere wat ons Sondag in die kerk sing nie, elke deel van ons lewens moet deel van ons aanbidding wees. Aanbidding is om God te verheerlik deur alles wat ons doen, dink of sê. Ons moet Hom aanbid vandat ons wakker word totdat ons weer aan die slaap raak.

Slegs deur onsself volkome aan God oor te gee kan ons Hom waarlik aanbid en ons doel en taak hier op aarde vervul. 

Bron : Versndag (Xanthe Hancox)