• 2014-03-17-12-03-05103719515
  • 2014-03-17-12-03-43195046250
  • 2014-03-17-12-03-071878311798
  • 2014-03-25-03-03-02462461642
2014-03-17-12-03-051037195151 2014-03-17-12-03-431950462502 2014-03-17-12-03-0718783117983 2014-03-25-03-03-024624616424

jes43 1God se Woord en beloftes staan vas. Hier is hoe Evert Potgieter, ’n leser uit Mosselbaai, God se getrouheid ’n paar dae gelede beleef het:

Evert: “Ek is reeds vir 21 jaar lank ’n finansiële adviseur. Ek werk op kommissiebasis en kry dus nie ’n vaste salaris aan die einde van die maand nie, wat soms veroorsaak dat my geloof getoets is. Al is ek ’n kind van God wat weet dat ek niks sonder Hom kan doen nie, is dit soms in die woestyntye moeilik om my oë op Hom te hou. Tog het hy my nog nooit teleurgestel nie.

Die afgelope twee maande het ek ’n ongekende droogtetyd in my praktyk beleef wat veroorsaak het dat ek soms gewonder het of my gebede ooit by God uitkom. Moedeloos het ek die oggend van 8 Mei my e-posse begin oopmaak. Aprilmaand was my swakste maand in my 21 jaar in my beroep en die maand wat voorgelê het, het nie juis belofte ingehou nie.

Ek gebruik die Vers-’n-Dag-stukkies vir my oggendstiltetyd. Dié oggend se stukkie was getiteld: ‘Byvoorbaat dank.’ Die stukkie het daaroor gegaan dat ons God moet dank nog voordat ons ’n deurbraak in ons lewens beleef. Dit was baie toepaslik op my gemoedstoestand. Ek het die skrifgedeelte in 2 Kronieke 20 gaan lees en beleef dat God daardie oggend ook vir my gesê het om soos Josafat en die volk, op te hou veg en Hom toe te laat om namens my te veg. Ek het alles nuut aan Hom oorgegee.

Teen die einde van daardie dag het ek my besigheid afgesluit gelykstaande met twee maande se inkomste! Dit was ’n wonderwerk en ek kan net getuig van God se getrouheid! Alle eer aan Hom.”

Evert is reg. God is getrou en wanneer ons in afhanklikheid voor Hom gaan staan, stel Hy ons nie teleur nie. Ons lees immers in Numeri 23:19: “God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie . . .” En ook in Deuteronomium 7:9: “Weet dan nou: die Here jou God, Hy is God. Hy is die betroubare God. . .”

Benodig jy vandag ’n deurbraak in die werkplek, finansies, huwelik of gesondheid? Luister dan weer na die belofte in Jesaja 43:18: “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”

God kan vir ons, net soos vir Evert in ons woestyntye, riviere laat ontspring terwyl ons met nuwe hoop die toekoms tegemoet stap. Kom ons dank Hom vir sy getrouheid en hou op om in ons eie mag en krag te veg sodat Hy namens ons die oorwinning kan bewerkstellig. Sterkte.

Bron : Benescke Janse van Rensburg / Vers ‘n Dag