Subscribe and receive a devotional 3 times a week containing inspiration and humour published on this site. Your information is safe and will not be shared with anyone. | Teken in vandag en ontvang ons dagstukkie en humor 3 maal per week. Jou inligting is veilig en word nie met enige ander persoon gedeel nie.

snork1609
Na die derde keer wat ek myself wakker snork op die vliegtuig wonder ek of die "sardientjies" langs my maak of hulle my nie hoor nie en of hulle "genuine" nie hoor nie. Een Groot Makoeloe regs van my is besig om voor te berei vir wat ek skat 'n interne verhoor aangeleentheid moet wees maar ek probeer fyntjies en ongemerk met verlepte oë sy gesigsuitdrukking ontrafel vir enige teken dat hy my dalk gehoor het. Gelukkig het ek darem elke keer my keel skoongemaak so asof ek presies weet wat ek doen en in totale beheer is van elke aksie (...en geluid!)

Ek is wawyd wakker en nou probeer ek die snork naboots om te probeer vasstel of die ouens dit dalk kon gehoor het. Met my eerste probeer slag skrik ek so groot (gits!) dat ek nie verder probeer eksperimenteer nie. Ek sien hulle in elkgeval nooit weer nie, "so what". Wel ek het my naam geruk - dis verseker!. Ek kan al sien hoe hulle hierdie een met smaak oorvertel.

Read more...

 

salf
Ek merk die pyn op haar gesig en die mank stap, soos sy tussen die tafels rondbeweeg om kliënte te bedien. Ek hoor hoe iemand vir haar vra wat makeer. Sy het haar voet geswik. Moet erg wees as ek kyk hoe sy loop. “Jong jy moet vir jou iets aansmeer of ‘n pilletjie drink” hoor ek een van die kliënte haar aansê. “Ja” sê sy met ‘n verleë glimlag.

Iemand verskoon haarself van ‘n tafel en loop uit. Minute later kom sy terug met ‘n pakkie in haar hande. Seker gou iets gaan koop som ek die situasie op. Ek sien hoe die persoon die pakkie aan die kelnerin oorhandig en sê “Hierso, smeer die salf aan, dit sal help”

My gedagtes word stilgeruk, ek dink aan die woorde in  in Jakobus 2:16 (b) en sê nou een van julle sou vir hulle sê: "Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg," maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17. So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

Hoe maklik praat kan ons soms praat, “laat dit met jou goed gaan, slaap warm en eet genoeg kos”, dan gaan ons aan met ons lewens. Hierdie kelnerin werk in die Wimpy, verdien dalk ‘n tip van R 2.00 per tafel, moet die hele skof met ‘n pynlike enkel rondloop en iemand kom en sit woorde om in aksie en iets gebeur; pyn word verlig.

Soos Jakobus hierbo sê, kom ons doen dieselfde met ons geloof vandag, sit dit om in ‘n daadwerklike poging om die daad by die geloof (behoefte) te voeg, begin daardeur momentum om God se krag te beweeg.

Johann
 

soaring_eagle
“Sweef soos ‘n arend, want Sy liefde dra jou. so hoog, hoog bo die son.” lui die woorde van ‘n liedjie. Inderdaad kan ons so baie leer by die arend. ‘n Arend wag op die regte windstrome voordat hy sy nes sal verlaat. Wanneer hy wel vlieg maak hy gebruik van lugstrome. Hulle sê dat ‘n arend sy kleintjies uit die nes sal skop, net om die kleintjie weer te vang sou hulle nie begin vlieg nie.

Wow !

Ons moet strewe om “Arend” Christene te word. As jy ‘n Christen is wat nog nie God se krag in jou lewe ervaar het nie of dit nie meer ervaar nie, as jy nie kan getuig van wonderwerke waarvan jy ‘n getuie is nie, as jy nie weet van kragtige maniere hoe God rondom jou werk nie, of as jy nog nooit deel was hiervan nie, dan wil ek jou vandag bemoedig en aanspoor om ‘n “Arend” Christen te word. Dalk het jy nodig om van voor af te leer vlieg. Van voor af blindelings op Jesus te begin vertrou vir jou situasie, blindelings en met ‘n hemelse perspektief weer jou dag tot dag aan te pak. Hom in beheer te stel van jou lewe, sodat wanneer jy leer vlieg jy sal besef dat Hy jou nooit sal laat val nie.

Read more...

 

number0809
Ek het geen idee nie. Hoekom die man nie eerder in sy ID boekie kyk nie, of dalk eerder vir sy vrou vra "who he is" nie, sal ek nie weet nie. Een ding is verseker, ek sal nie my motor se nommerplaat (soos syne) laat druk met dié woorde op nie.

Wel, dit is 'n "fancy" kar, maar dat iemand daarin ry en wonder wie hy is, is vir my een te veel. Inteendeel dit is nou al 'n hele week later en ek wonder nog steeds wie die ou is.

Ek was amper lus en ry agter hom aan en sodra hy stop vir hom te sê: "My ou mater, ek het geen idee wie jy is nie. Kan jy nie dalk vaagweg onthou wie jou bure was nie, of jou vrou se nooiensvan of net ietsie nie, want ek is bereid om jou te help soek na wie jy nou regtig is".

Dink hieraan, hy word afgetrek deur 'n verkeersbeampte vir spoed. "Wie is jy meneer?" Al wat hy doen is om te frons,  sy skouers op te trek en na sy nommerplaat te wys. Hy hoef nie eers te praat nie...

Dalk het die man sy naam weggegooi. Wie weet? Dalk het hy dit in die kroeg verloor, nie dat ek voorstel hy diep in die bottel moet kyk daarvoor nie...  Dalk het hy dit op 'n weddenskap verloor? Dalk met 'n oneerlike saketransaksie. Ek en Zelda het nou al die scenario's al deurgetrap. Al die antwoorde vir die man oorweeg, maar ons sit met 'n probleem; ons weet ook nie wie hy is nie!!

Nou ja, die man weet eintlik presies wie hy is. Die nommerplaat het eintlik 'n baie duidelike boodskap. "Weet jy wie ek is?  Ek is die ou wat hierdie motor besit. Ek is die een wat gearriveer het."

Kan jy onthou wat sê Paulus daarvan? Moet daarom nie vir die Satan 'n kans gee om jou op hierdie aarde 'n gevoel van "Who am I" te laat ervaar nie. Dit gaan nie oor ons nie, dit gaan oor Jesus. Dit gaan nie oor wie ek is nie, dit gaan oor wie ek in Jesus is. Ek is 'n Koningskind, 'n begenadigde, iemand vir wie Jesus ook gesterf het.

En jy? Weet jy wie jy is?

Johann

 

ice0409
Een van die min fiemies wat ek het is om warm koeldrank te drink. Dis ‘n alewige herhinnering aan wie ookal vir my koeldrank aanbied of indien ons bestel : “Gooi net ys is as die koeldrank warm is asb.” Kom die koeldrank by ons is die een en enigste blokkie ys al reeds so klein soos ‘n albaster en ja, met die koeldrank wat nog (steeds) warm is. Dan herhaal die proses hom en ek bestel ‘n aparte glas met ys.

Warm koeldrank met gas kan net nie lekker wees nie. Veral as mens dors is en jy wil die blikkie koeldrank aanpak met angstigheid om jou dors te les kom jy soos ‘n stoomtrein tot stilstand geruk wanneer daardie gas na die eerste paar slukke rebelleer en stroomop hulle pad terugvind na die bron van oorsprong. Agterna sit jy daar met trane in jou oë en kieste wat opgeblaas was. Soms ook met ‘n rooi gesig (van skaamte) as die borreltjies jou onkant betrap het en luidkeels hulle vryheid aankondig (en die hele restaurant raak vir ‘n oomblik stil…) Ai-jai-jai!

Read more...