Vissermanne oorleef rowwe see in visserskuitjie

'n Storm stilgemaak

seeredding2303
(Mnre. Oscar Pick, Eric Liedeman en Dominic Herman, drie van die vier vissers wat byna ter see gesterf het. Foto: Lizané Louw)
"Soos daai storie in die Bybel oor hoe God die waters stil gemaak het, só het ons dit ervaar."

Mnr. Oscar Pick (30) vertel van die noue ontkoming wat hy en nog drie vissers, mnre. Dominic Herman (29), Eric Liedeman (42) en Isak Arendse (66), in die rowwe see by St. Helenabaai aan die Weskus gehad het.

Hulle het soos gewoonlik die oggend uitgegaan om hul daaglikse brood ter see te gaan verdien.

"Ons vang kreef en verkoop dit of gee dit vir ons gesinne," sê Pick.

"My oupa het altyd gesê die see sorg goed vir sy vissermanne, maar hy vat ook so nou en dan van sy vissermanne. Gelukkig was dit nie óns lewens nie," sê Herman.

Manne van 'n ander skuit het hulle dié dag gebel en gesê hulle moet liewer omdraai, want die wind raak al hoe erger.

Die oomblik toe hulle hul skuit, die Colleen, omdraai, het die wind die skuitjie getref.

"Die skuit het omgeslaan. Ons het in die water beland en moes aan die skuit vasklou," vertel Pick.

Hulle was eers so 5km van die wal af, maar toe die skuit omslaan en hulle in yskoue water daaraan vasklou, het hulle byna 16?km verder van die wal af gedryf.

"Ons het daardie oggend in die yskoue water aan ons klein skuitjie gehang en mekaar aan die gesels gehou om kalm te bly."

Hulle het 'n bootjie na aan hulle gewaar en begin fluit en skree.

"Die boot, die Jermaine, se vissers het ons gesien en nader gekom. Ons het almal op daai bootjie geklouter."

Die boot kon egter nie beweeg nie - dit is vir vier mense gemaak, daar was reeds vyf manne in die boot en nou moes dit nege mense dra.

"Terwyl ons soos sardiens gepak op die Jermaine gesit en wag het, moes ons die water met 'n emmer uitskep, want dié boot wou net sink onder die oortollige gewig.

"Die manne van die Jermaine het die skipper van 'n ander skuit, die Big John, gebel om te kom help."

Die Big John het vier ure later eers tot hul redding gekom.

"Toe ons aan wal kom, het ons dadelik begin bid om vir God dankie te sê vir ons gespaarde lewens.

"Ons gereedskap is alles daarmee heen en ons skuit het vyf dae later onderstebo uitgespoel op Lambertsbaai," vertel Liedeman.

Vir die vissers was die vreemdste van alles dat die wind gaan lê het terwyl hulle in die yskoue water gewag het. "As die wind nie gaan lê het nie, sou ons almal op die Jermaine gesterf het," sê 'n verligte Pick.

Eers toe hulle aan wal gegaan het, het die wind weer sterk begin waai.

Hulle het gelukkig nie 'n vrees vir die see oorgehou ná hul ontbering nie. "Ons soek nou net 'n nuwe skuit en dan is ons terug op die see.

Dis hoe ons aan die lewe bly."

Colin Hendricks in Mamré (Rapport)