GREYTOWN. - "Ek is deur Jesus van die randjie van die dood teruggebring."
'n Klaarblyklik brose Buchan het gister om 09:30 op die verhoog verskyn met sy hande, die een met 'n Bybel daarin, seëvierend in die lug.
Die skare het ritmies begin roep: "Jesus! Jesus! Jesus!" Buchan het dit beantwoord deur met sy wysvinger hemelwaarts te wys.
Die vorige oggend toe hy in lekker weer met 'n warm winterhemp op die verhoog verskyn, het hy op die oog af niks makeer nie.
Hy het wel vertel dat hy die vorige aand koors gehad het.
Hy het sy vrou gevra om vir hom te bid en Saterdagoggend het hy verklaar dat hy heeltemal gesond is.
Kort ná sy optrede het hy egter onder die verhoog, buite sig van die skare, inmekaargesak.
Buchan het gisteroggend vertel dat 'n wit en 'n swart dokter hom gehelp het.
Dr. Nthobeka Ntuli, een van die mediese personeel aan diens tydens die konferensie, het aan die skare vertel dat hy omstreeks 11:00 geroep is omdat 'n pasiënt inmekaargesak het.
Hy het Buchan onder die verhoog aangetref waar hy op die grond gelê het. Hulle het hom gehelp en na sy huis geneem waar hy weer inmekaargesak het.
Die dokter het vertel dat hulle hom suurstof gegee en sy hart gemonitor het. Die tekens was volgens hom "sinister" en hy het dit as 'n moontlike hartaanval bestempel.
Kort ná 14:00 is al die konferensiegangers via die radiostasie wat vir die konferensie bedryf is, geroep om na die saamkomplek te gaan.
Terwyl hulle vir Buchan gebid het, is hy per helikopter van sy huis na die Medi-Clinic in Pietermaritzburg gebring.
Buchan se skoonseun, mnr. Greg Hull, het vertel dat sy skoonpa by die hospitaal deur 'n strawwe stel toetse is.
Hy moes onder meer op 'n trapmeul hardloop, maar die dokter kon niks fout vind nie. Hulle het vertel dat hy gewonder het of die dokter dink hulle mors sy tyd.
Bloedtoetse het ook niks gewys nie en Buchan is ontslaan en het die aand by die huis geslaap.
Hulle het gesê as hy dink aan die manier waarop sy skoonpa op die gras by die huis gelê het en 'n paar ure daarna as gesond uit die hospitaal ontslaan is, het daar 'n verskriklike wonderwerk gebeur.
Buchan het gesê waar hy op die gras gelê het, het hy meer hulpeloos gevoel as ooit tevore. Hy het gedink as Jesus nie nou iets doen nie, gaan hy dit nie oorleef nie.
Toe hulle met die helikopter opgestyg het, het hy afgekyk en gesien hoe die skare mans saamgetrek is om vir hom te bid. Hy dink dis toe dat hy genees is.
Neels Jackson
Volksblad
| < Prev | Next > |
|---|
Home
CUM Books
Articles and Stories
Devotionals
Multimedia
Humor & Cartoons
Comments

