Subscribe and receive a devotional 3 times a week containing inspiration and humor published on this site. Your information is safe and will not be shared with anyone. | Teken in vandag en ontvang ons dagstukkie en humor 3 maal per week. Jou inligting is veilig en word nie met enige ander persoon gedeel nie.
Is Jesus barbeque of die goeie ou tomato flavour? PDF Print E-mail
Written by STRAATWERK   

watter_stem
My foon lui en ek sien dis onse antie Marion* wat bel. Marion is ons 75-jarige uitreik maatjie wat niks daarvan dink om haar man 02:30 in die oggend wakker te bel om haar na die uitreik te kom haal nie. Sy maak dit gewoonlik af met die woorde:" Hy kan ook bietjie iets vir die evangelie doen." As dit koud en reënerig is draai Marion haarself toe in baie klere en musse en handskoene. As Marion wil sien wat in Beulah Bar, Bronx, Jo'burg of watter ander nagklub ookal aangaan, dan vra sy om in te gaan, as sy lus is om vir die uitsmyter 'n drukkie te gee, dan doen sy dit, as sy met iemand oor die Here wil praat, laat sy niks haar keer nie - en almal laat haar toe, want sy is 75 en leef steeds met passie. In die middel van die winter het ek een aand vir die antie gesê sy moet sommer by die huis bly want die weer is te stormagtig. Haar woorde aan my was eenvoudig: "As ek in die dag in die reën kan loop wanneer ek gaan inkopies doen, kan ek ook in die nag in die reën loop. Daar is geen verskil nie. En ek het nie meer veel tyd oor om te leef nie en daar is baie werk. Ek moet net voluit gaan vir Jesus." En daarmee was die saak afgehandel. Punt.

"Lisa, dis Marion hier. Ek was nou net oppad na my kar toe om saam met julle te kom uitreik, maar ek mag nie uit my huis gaan nie. Daar is blykbaar 'n gewapende misdadiger in ons straat en die polisie het vir ons almal laat weet dat ons nie uit die huis mag gaan nie, maar ek sal bid. En Lisa, julle moet versigtig wees vanaand."

En 'n paar oomblikke later voel ek hoe my selfoon in my jeans se sak vibreer - 'n sms, weer Marion: "Sê asb vir Esta en Willie dat Nontemba sy Bybel gekry het. Dankie! Ek moes seker tuis bly, want 'n ander man het nou net sy beloofde Bybel kom haal. Hoe werk die Here!".

Ons ontmoeting met Joe* het ons egter wakker geskud, laat lag en geïnspireer tot groter hoogtes. Joe is 'n flambojante karakter met 'n Pick'nPay sak vol net en satyn en 'n groot hoed en konsertagtige dinge en 'n vlymskerp brein.

"You have a beautiful smile," het hy gesê en sommer net begin gesels. Hy het ons vertel dat hy vanaand Langstraat toe geloop het met die hoop dat mense na sy show sal kom kyk, want hy is desperaat vir 'n paar sente. Hy het ook vertel dat hy in 'n woonstel bly teen R650 per dag, wat hy glad nie kan bekostig nie, en dat hy moeg is om so op die edge te moet lewe en al die worries en onstabiliteit. Hy het ons vertel van sy tyd in 'n kliniek en dat hy besluit het om die kan-nie-worry pilletjies te los.

"I want to feel again!" het hy uitgeroep, "I want to experience the harsh reality of life, in my face - not that I can handle it, but It's better than being drugged all the time, like a zombie, you know..."

David het 'n pakkie Fritos, met die woorde Jesus Saves, na hom toe uitgehou.

"My goodness," het Joe gesê: "Can you believe this? Jesus is now available in barbeque flavour. Barbeque Jesus. I ask you - what has happened to good ol' tomato flavoured Jesus?"

Hy het senuweeagtig sy sleutels begin rondswaai en ons vermaak met 'n aardige klomp kwinkslae. Ons het begin om aanstaltes te maak om te loop en hy was vreeslik verontwaardig.

"I want you to pray for me, why do you want to walk away?" Hy het gevra dat ons vir hom sal bid vir sy veiligheid en vir wrede mense wat hom bespot en wil seermaak, vir sy selfmoordneigings en vir regverdigheid en vir Christene en die kerk. Net daar, te midde van al die gayklubs en baie mense wat verbyloop en gesels en skree het ons saam met Joe gebid. Dit was goed. Jesus was daar saam met ons in die kringetjie en Joe het na die gebed 'n grouphug geëis. Na die "amen" het Joe weer begin gesels: "You know what, you are brighter than you think, you are brighter than you look... not that I'm saying that you are on dim... you shouldn't be so serious, enjoy life..."

Arme Joe, hy wil net so graag gehoor word, verstaan word, liefgehê word. Met Joe se gebabbel het ons bewus geword van 'n vroutjie wat eenkant gestaan en luister. Madri het haarself gaan voorstel aan die vroutjie, want sy het duidelik vir ons gewag om klaar te maak met die gesprek met Joe. Die vroutjie se versoek was eenvoudig: "My friend said that you are the people who give prayers. I am in need of prayer."

Ek moet sê, dit was lekker om te hoor dat ons die mense is "who give prayers". En in die middel van die nag maak dit seker nie regtig saak of Jesus barbeque of good ol' tomato flavour is nie. Dit maak ook nie saak of ons op brights of dims is nie. Al wat regtig saak maak is dat ons en Jesus dáár is.

* Skuilname

Bron: Straatwerk.co.za

 

Subscribe to our newsletter

Every weekday we send out an inspirational email containing the latest additions to this website. Subscription is free and you don't have to join our church :)


Spain.png
Antigua_Barbuda.png
Italy.png