PRETORIA. - "Dit gaan nie oor my nie, dit gaan oor die storie wat ek het om te vertel en ek glo dit kan vir veral jong mense hoop gee."
Só het Pierre Spies, Springbok-rugbyspeler en agtsteman van die Bulle, gister in Brooklyn by die bekendstelling van sy DVD, Nuwe passie, gesê. Hy het laat blyk hy sal moontlik ná sy rugby-loopbaan die bediening betree.
In die DVD deel Spies onder meer sy getuienis as Christen en vertel hy van die verskeie terugslae wat hy al moes oorkom, soos die bloedklonte in sy longe wat veroorsaak het dat hy hom uit die Springbokspan vir die Wêreldbekertoernooi van 2007 moes onttrek.
"Om iets vir iemand anders te kan beteken, is 'n groot voorreg en ek voel daar is goed wat met my gebeur het en waardeur ek moes wroeg wat ander mense dalk kan help."
Die DVD sluit onderhoude met ander Bulle-spelers soos Victor Matfield, Fourie du Preez en Bryan Habana in. Dit bevat ook 'n foto-galery en 'n versameling van Spies se "kragtigste drieë".
In 'n uittreksel wat aan joernaliste gewys is, het Spies veral gepraat oor sy worstelinge tydens sy ouers se egskeiding, asook sy teleurstelling toe hy uitgevind het hy sal nie in die Wêreldbekerspan wees nie.
"Ons was nog altyd 'n baie geestelike gesin en van kleins af het my pa my altyd aangemoedig om méér te doen en beter te wees," vertel Spies op die DVD.
"Toe, in st. 6, het 'n donker tyd vir my begin.
"Ek het my ouers se egskeiding baie moeilik aanvaar en alles het uit proporsie gevoel. Ek het begin rook en drink en dit het finansieel maar sleg gegaan.
"Tog het ons geglo die beste lê nog vir ons voor - en toe kom my pa se skielike dood."
Spies vertel voorts hoe hy sy pa se dood verwerk en voortgegaan het om 'n Blou Bul en 'n Springbok te word.
"Alles het weer goed gegaan en toe, 'n maand voor die Wêreldbeker, het ek skielik bloed begin hoes.
"Ek het vir die Here gevra hoekom Hy dit aan my doen nadat ek alles gedoen het waarvoor hy my gevra het.
"Daarna het ek besluit om op God te vertrou vir my genesing en het ek Hom hardop met my siek longe begin prys."
Mnr. Dawie Spies, sy oom, het gesê daar is baie jong mense daar buite wat kan baat vind by Spies se verhaal.
"Pierre is 'n besonderse jong man en in die DVD inspireer hy deur 'n besef by oud en jonk te laat oor die krag van 'n droom en die eindproduk van wilskrag, passie en deursettingsvermoë." Die DVD is van Julie beskikbaar.
Fanie van Rooyen - Volksblad
15/05/2009
| < Prev | Next > |
|---|
Home
CUM Books
Articles and Stories
Devotionals
Multimedia
Humor & Cartoons
Comments

