Dan Clark onthou hoe hy as tiener saam met sy pa in 'n tou gestaan het om kaartjies te koop vir die sirkus. Voor hulle was 'n arm gesin. Die ouers het hande vasgehou, en daar was agt kinders, almal waarskynlik jonger as twaalf. Hy kon sien dat die sirkus vir hulle 'n nuwigheid was. Toe die kaartjieverkoper vra hoeveel kaartjies hulle wou koop, het die man trots geantwoord: "Agt kinderkaartjies en twee vir volwassenes." Toe die kaartjieverkoper die bedrag noem, het die vrou sy hand gelos en haar kop laat sak. Die man het nader gestaan en gefluister: "Hoeveel het jy gesê?" Hy het duidelik nie genoeg geld gehad nie, en het verpletterd gelyk.
Clark vertel hoe sy pa die hele petalje dopgehou het, sy hand in sy sak gesteek en 'n twintigrandnoot uitgehaal het, en dit ongemerk op die grond laat val het. Toe het hy afgebuk en die geld opgetel, die man voor hom op die skouer geklop en gesê: "Verskoon my, meneer, maar ek dink jy het hierdie laat val." Die man het presies geweet wat besig was om te gebeur. Hy het Clark se pa stip in die oë gekyk, sy hand geneem en dit geskud, en terwyl 'n traan teen sy wang afloop, het hy gesê: "Baie dankie, meneer. Dit beteken so baie vir my en my gesin." Clark en sy pa het teruggegaan huis toe. Hulle het nie meer genoeg geld gehad om kaartjies te koop vir die sirkusvertoning nie, maar dit het nie saak gemaak nie. Hulle het 'n hele gesin geseën - iets wat nie een van die families sou vergeet nie. Dis wat dit beteken 'om goed te doen'.
Bron: Radiokansel
| < Prev | Next > |
|---|
Home
CUM Books
Articles and Stories
Devotionals
Multimedia
Humor & Cartoons
Messages

