Lifesaver

As 'n ding vir jou goed was, sou God dit nie geweier het nie. Óf die tydsberekening is verkeerd óf Hy het iets beters in gedagte vir jou. Dankbaarheid gebeur wanneer jy besef wat kon gebeur het as dit nie was dat God ingegryp het nie. Hou op om jouself te probeer losmaak uit die liefdevolle greep van die Een wat jou vashou vir jou eie beskerming.

Dawid het geskryf: "Die Here is my herder; daar is niks wat my ontbreek nie." (Ps 23:1 NLV) 'n Herder lei jou, versorg jou en beskerm jou. Soos 'n lewensredder op die strand, sal Hy die feesvieringe onderbreek en jou selfs voor jou vriende in die verleentheid stel om jou lewe te red. Hy het jou te lief om toe te laat dat jy verdrink in dít wat jy dink goed is vir jou.

"Vertrou jou lewe aan die Here toe. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg." (Ps 37:5 NLV) Die dinge waaroor jy vandag bitter voel, is presies dieselfde dinge waarvoor jy God môre sal bedank. Mark Twain het vertel dat toe hy 14 jaar oud was, sy pa só vreeslik dom was, dat hy dit kwalik kon hanteer. Maar teen die tyd dat hy 21 geword het, was hy verstom om te sien hoeveel sy pa in 7 jaar geleer het. Hallo! Namate jy meer volwasse word, sal jy sien hoe liefdevol en wys jou Hemelse Vader is, en sal jy Hom al meer vertrou.

Kopiereg 2009 Radiokansel